Corné en René van Rooyen.

Credit: SYSTEM

En die silwerskermtoekenning vir die beste speelfilm gaan aan . . . Hans steek die Rubicon oor! En die skare, veral dié wat in die Boland woon, juig verwoed, want die vervaardiger van dié komedie is niemand anders nie as René van Rooyen, wat in 2002 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle gematrikuleer het.


Hans steek die Rubicon oor is oorspronklik geskryf deur Rudie van Rensburg en is later in ’n radiodrama en toneelstuk omgeskep voordat René en haar man, Corné, van Red Letter Day Pictures dit in ’n fliek omgeskep en met drie pryse by die onlangse Silwerskermfees weggestap het.

Die rolprent speel in die hartjie van Kaapstad by Nazareth House-aftreeoord in Vredehoek af en is ’n komedie gesentreer rondom oudword en hoe dié verskynsel ervaar kan word.



Buiten die prys vir die beste speelfilm het Corné ook die prys vir die beste regisseur gewen, terwyl Pierre van Pletzen, wat een van die hoofrolle vertolk, as die beste akteur aangewys is.

Buiten Van Pletzen is Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo en Nicola Hanekom ook in die rolprent te sien.

Volgens René beteken al dié toekennings vir haar en haar man “ongelooflik baie” omdat mense gesê het Afrikaanse rolprente sal nie sommer ná die Covid-19-pandemie in fliekteaters verskyn nie, maar slegs op televisie.

“Afrikaans verdien ’n plek op die grootskerm,” het René telefonies aan Paarl Post gesê en verduidelik dat hulle met die maak van dié rolprent baie mense verkeerd bewys het noudat Hans steek die Rubiconoor vandeesmaand oor die land heen in 32 fliekteaters te siene sal wees.

Volgens René dra sy baie hoede by Red Letter Day Pictures, wat sy en haar man saam bestuur, en nie net dié van vervaardiger nie.

Sy het ook telkemale die regisseurstoel volgesit, onder meer met die bekende Afrikaanse rolprent Toorbos, wat verskeie nasionale en internasionale pryse gewen het, en ook by die 93ste Oscars as Suid-Afrika se amptelike inskrywing getel het.

Sy het ook saam met haar man gewerk aan die bekende sepie Alles Malan, wat in die Paarl geskiet is en waar die “kykertalle die hoogte in geskiet het, wat baie te danke is aan die Paarliete” wat die sepie ondersteun het, volgens haar.

Nadat René haar skoolbaadjie opgehang het, het sy haar rolprentstudies by die kunste-organisasie Afda voltooi, en ná ’n paar jaar by Homebrew Films begin werk.
Ná ’n ruk het sy egter bedank en as ’n vryskut aangebly om haar eintlike droom as draaiboekskrywer te verwesenlik, waar sy in 2012 haar eerste silwerskermtoekenning ontvang het vir haar draaiboek en kortfilm Nantes, vervaardig deur Homebrew Films, en genoem na die plaas buite die Paarl waar sy grootgeword het en waar haar ouers steeds woon.



Hans steek die Rubikon oor verskyn van 29 September af landswyd op die grootskerm, maar Bolanders kan hulle regmaak vir ’n spesiale verskyning op 21 September om 10:00 by die Minimax-teater in die Paarl teen R35 ’n kaartjie.


Paarl Post het twee kaartjies om weg te gee aan een gelukkige wenner.

Beantwoord die volgende vraag, en SMS die antwoord nie later as Maandag 18 September om 12:00 na 066 484 3728: Wie het die boek Hans steek die Rubicon oor geskryf?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article