Roderick Fredericks spog met sy goue medalje en die Suid-Afrikaanse vlag by die Afrika-netbaltoernooi in Botswana.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Roderick Fredericks, ’n veelsydige sportman van die Paarl, het onlangs geskiedenis gemaak as die eerste mens uit die Kaapse Wynland-distrik wat vir die Suid-Afrikaanse mansnetbalspan verkies is en toe sommer goud by die Afrika-netbaltoernooi in Botswana verlede jaar verower het.

Fredericks, wat eintlik ’n gesoute basketbalspeler is, se vriend Kurtley Titus het hom ’n paar jaar gelede aan netbal voorgestel.

Hy het vandeesweek aan Paarl Post vertel dat hy aanvanklik saam sy vriende netbal begin speel het as ’n manier om fiks te bly.

Dit was nie lank voordat hy ’n liefde vir die sport ontwikkel het nie, en het toe vir drie jaar aan verskeie plaaslike toernooie in die Boland deelgeneem.

Dit is juis by hierdie plaaslike toernooie waar Fredericks se talent deur afrigters raakgesien is, en hy is toe in die Kaapse Wynland-distrikspan opgeneem.

Ek het toe die nasionale span gemaak. Ek was verbaas, want daar was werklik so baie mense wat hul plek in die span wou verseker. Om een van slegs twaalf spelers te wees wat die span maak was regtig vir my ’n groot eer.

In Maart verlede jaar het hy besluit om die uitdunne vir die Suid-Afrikaanse span by te woon.

“Ek het toe die nasionale span gemaak. Ek was verbaas, want daar was werklik so baie mense wat hul plek in die span wou verseker. Om een van slegs twaalf spelers te wees wat die span maak was regtig vir my ’n groot eer,” het hy aan Paarl Post gesê.

Hy vertel dat hy egter eers etlike dae ná die aankondiging uitgevind het dat hy die span gehaal het, nadat hy sy selfoon verloor het.

“Daar was nie regtig ’n ander manier hoe hulle met my kon kontak maak nie. Toe ek my WhatsApp ná ’n paar dae weer aanskakel, sien ek die goeie nuus.

“Dit was egter ’n bittersoet ervaring aangesien almal in daardie stadium reeds in Pretoria was. Ek het die situasie toe aan die bestuur verduidelik en hulle het my dadelik op ’n vlug Gauteng toe gesit.”

Fredericks was toe lid van die Suid-Afrikaanse span wat die land by die 2023 Afrika-netbaltoernooi in Botswana verteenwoordig het.

Dié toernooi het van 28 November tot 6 Desember by die Universiteit van Botswana plaasgevind.

Daar was baie sterk kompetisie, maar ek het van die begin af geweet dat ons as wenners uit die toernooi sal uitstap. Een belangrike eienskap wat ons van die ander spanne geskei het, was die feit dat daar ’n ongelooflik sterk band tussen al die spelers en bestuurslede was

Suid-Afrika het Zimbabwe in die eindronde met 45 – 40 geklop.

“Daar was baie sterk kompetisie, maar ek het van die begin af geweet dat ons as wenners uit die toernooi sal uitstap.

“Een belangrike eienskap wat ons van die ander spanne geskei het, was die feit dat daar ’n ongelooflik sterk band tussen al die spelers en bestuurslede was.

“Ons het van dag een af met die gedagte gegaan dat ons daar is om iets baie groter as onsself te verteenwoordig. Ons was daar vir Suid-Afrika en die verskeie gemeenskappe waarin elke speler grootgeword het,” sê Fredericks.

Roderick Fredericks is die eerste persoon uit die Kaapse Wynland-distrik wat in die Suid-Afrikaanse mans netbalspan opgeneem is.Foto: Verskaf

Sy boodskap aan die jeug, veral dié met soortgelyke drome, is om nie toe te laat dat hul omstandighede hulle terughou nie.

“Moenie jouself beperk tot die gemeenskap en die omstandighede waarin jy grootgeword nie. Daar is baie geleenthede daar buite. Jy moet net bereid wees om daardie eerste tree te gee.”

Fredericks het aan die Hoërskool Noorder-Paarl gematrikuleer.

Hy sê hy beplan om vanjaar sportbestuur by ’n instelling in Gqeberha te studeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article