Deur die opofferinge van haar ma maak Abigail Lombard vandag deure vir ander oop om kennis op te bou en hul eie ondernemings na nuwe hoogtes te neem. Haar goeie werk word raakgesien deurdat sy onlangs in twee kompetisies benoem is.

Lombard is die baasbrein agter ALC Skills Developers in die Paarl, wat sy in Julie 2020 gestig het.

“Ek het op ’n plaas in Agter-Paarl grootgeword. Ek’s ’n opregte plaasmeisie. Modder, trekkers, groen velde, wingerde druk net die regte knoppies vir my. My rolmodel is definitief my ma. Sy was ’n enkelouer en het my alles gegee wat sy kon – ’n regte verantwoordelike vrou wat uitgestyg het bo haar omstandighede. Ek is ewig dankbaar vir jou, my mamma.

“Op laerskool was ek by Windmeul Primêr waarna ek toe in graad agt tot 12 by Paarl Gimnasium was. Dit was die beste jare nog. My fondasie is grootliks by dié twee plekke gelê. Ná matriek het ek Menslike Hulpbron­bestuur N6 by Boland-kollege studeer.”

As deel van Lombard se studies moes sy haar prakties voltooi. Sy het tydens haar studies by ’n plaaslike winkel wat boumateriaal verkoop, aangesluit.

“Ek het as ’n HR-groentjie begin. Daar was nie voorheen ’n menslike hulpbronne-afdeling by die onderneming waar ek my prakties gaan doen het nie. Daar was letterlik net een lêer vir alles wat HR-verwant was. Snaaks genoeg was ek nie bang of bekommerd nie, want ek het dit as ’n uitdaging gesien. Ek moes myself leer; daar was geen HR-bestuurder wat my touwys kon maak nie. Toe besluit ek en verleng outomaties onmiddellik self my studies en vat elke dag boeke saam werk toe om verder te leer.

“Tyd het verloop en ek was toe bevoorreg om saam met ’n arbeidsprokureur by dieselfde werkplek te werk, wat my toe verder aan die hand kon vat. Beter geleenthede het gekom, maar by albei my volgende werke moes ek ook HR-afdelings begin het. ’n Paar jaar gelede het ek besluit om my BEd-graad te doen om meer kennis op te bou in die onderwysveld, wat baie verwant is aan my huidige veld van werk. Ek het my graad vanjaar voltooi – tussen ma-wees, vrouwees, sakebestuurder en leier vir my span van vyf.”

Lombard se droom om haar eie vaardigheidsontwikkelingsmaatskappy op die been te bring, was nie maklik nie, veral nie toe sy besluit om dit in die hartjie van die Covid-19-pandemie bekend te stel nie.

  • “Ek spring nooit net in ’n ding in nie. My huiswerk was gedoen en ek het met my raadsman, Jesus, gekonsulteer. Goedheid en guns het my gevolg, net soos Jesus bevestig het. In dieselfde maand nadat my onderneming bekendgestel is, is ALC Skills Developers ’n tender toegestaan waar ek as kliënteskakelbeampte deur die aangestel is. Met ander woorde, ek is aangestel om W&R stakeholders in sekere dele van die Wes-Kaap met hul mandatory grant-eise, vrae en onsekerhede by te staan. Ons tender is intussen tot 2026 verleng.”

ALC Skills Developers se dienste sluit ook opleiding in verskillende bedrywe, sagte vaardighede, akkreditasie-aansoeke-werwing en nog meer in.

Die doelwitte wat sy nog deur haar onderneming wil behaal, sluit volgens Lombard onder meer in “om geleenthede te skep vir werkers om bevorder te word deur gratis opleiding en vaardighede in hul werkplekke te ontvang en om geleenthede te skep vir werklose individue soos mense wat byvoorbeeld internskappe soek”.

Sy beklemtoon dat ALC Skills Developers reeds meer as R4 miljoen se geleenthede hier in die Drakenstein geskep het, en sy sien daarna uit om meer mense deur vaardigheidsontwikkeling te bemagtig.

Lombard se toewyding in haar loopbaan en om ander te ondersteun is ’n bewys dat vroue enigiets kan vermag – maak nie saak hoe groot of hoe klein nie.

Die kollig is onlangs op haar harde werk geplaas toe sy benoem is as ’n semifinalis in Transunion en News24 se Rising Stars-toekennings. Sy is ook as ’n finalis in nog ’n ander kompetisie wat later vanjaar plaasvind, benoem.

“Daar was meer as 800 inskrywings vir die Rising Stars Awards, waar ek baie trots is om die top-10 te kon haal. Die vyf finaliste is voorverlede week aangekondig, waar ek ongelukkig nie deel van is nie, maar om erkenning te kry en in die top-10 uit 800 inskrywings te wees, is hartroerend genoeg.

“Dankie Transunion en News24 vir die journey!

“ ’n Huidige kompetisie waarvan ek deel is, is die South African Council for Business Woman (SACBW) se entrepreneur van die jaar-toekennings wat op 19 Oktober aangekondig sal word. Ek is hoopvol vir die toekoms.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article