Celeste Loots (27)Foto: Celeste Loots/ Instagram


Celeste Loots (27) het reeds van kindsbeen af ’n liefde vir die kunste – soveel so dat sy ná een jaar se regte-studies aan die Universiteit van Kaapstad (UCT) opgeskop het om haar liefde vir toneelspeel na te streef.

Dié Bolandse aktrise sal binnekort te sien wees in Showmax se dramareeks Trompoppie, waar sy die rol van Zanne, ’n leerder en ’n trompoppie, vertolk.

Loots het tot op 11-jarige ouderdom aan die Hoër Meisieskool Paarl se laerskool skoolgegaan en daarna haar skoolloopbaan by Curro Durbanville voortgesit, waar sy in 2014 matrikuleer het.

Sy bly nietemin steeds nou verbonde aan die Paarl en besoek die dorp gereeld wanneer sy haar familie sien.

In Trompoppie vertolk Loots die rol van Zanne, ’n aangenome dogter van Jill en Frank Peterson.

“Haar ouers is baie involved in haar lewe, en sy is well-away om een van die skool se top-trompoppies te word,” het Loots telefonies aan Paarl Post gesê.

Volgens haar is daar vele interne en eksterne gevegte wat Zanne deur haar grootwordjare op skool en as ’n trompoppie moet baasraak.

Loots het op ’n jong ouderdom reeds haar vernuf in toneelspel verbeter toe sy dramaklasse by die Ou Meul-teater bygewoon het – klasse wat sy “baie geniet” het.

Nadat sy besluit het om nie haar regstudies voort te sit nie, het sy ’n BA-graad in toneelspel en teater voltooi, waarna sy ook haar honneursgraad aangepak het.

Sy het die arbeidsmag in 2020 betree, wat ’n “rocky start” was weens die alombekende Covid-19-pandemie, wat wêreldwyd toegesak het.

Nietemin, van toe tot nou, het Loots haar merk in die kunste-bedryf gemaak, waar sy in bekende sepies soos Projek Dina gespeel het, en in rolprente soos One Piece, Home Affairs: A Love Story en die kortfliek Sporadies Nomadies.

Van dié mylpale was haar heel eerste rol as Lily in Home Affairs: A Love Story ’n hoogtepunt.

Dan is daar ook One Piece en Trompoppie wat vir haar uitgestaan het.

“Dit was ongelooflik om die details op die stel by One Piece te sien,” het sy gesê.

“Met Trompoppie het ons in ’n ateljee geskiet en ek het soos ’n klein meisietjie gevoel wat alles vir die eerste keer beleef,” sê Celeste.

Dié dinamiese aktrise se drome strek wyd en dit is haar wens om “so veel verskillende rolle as moontlik” te vertolk.

Sy sê ook sy is baie lief vir ’n glas rooiwyn – veral dié wat haar pa gemaak het. Met haar pa wat wyn as stokperdjie gemaak het, vorm rooiwyn deel van haar herinnering aan haar kinderjare in die Paarl.

Trompoppie se première is 7 Desember op Showmax, met nuwe episodes elke Donderdag, totdat die reeks op 8 Februarie 2024 ten einde loop.

Trompoppie gaan oor die lewe van die verskillende trompoppies in ’n span wat probeer om die nasionale kompetisie te wen, asook alles wat daarmee gepaardgaan . . . die druk, die oefen, skool, mededinging om gewild te wees en natuurlik die tewerigheid tussen meisies,” sê Elzet Nel, wat die trompoppies se kaptein vertolk, in ’n persverklaring.

“Dit is maar soos dit gaan as meisies met mekaar meeding, veral tussen die ouderdomme van 16 en 18. Dit is aaklig.

“Trompoppie wys dus ook hoe elke meisie die druk van al hierdie goed hanteer, en hoe ver hulle bereid is om te gaan om bo uit te kom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article