Paarl Wynroetes produsente maak skoonskip by gesogte Michaelangelo-toekennings

Hier is van die Paarl Wynroete se uitblinkers by vanjaar se Michaelangelo-toekennings, van links, Toit Wessels (Ridgeback-wynmaker), Andri le Roux (Perdeberg-wynmaker), Abraham van Heerden (Windmeul-senior wynmaker), Isabel Teubes (Nederburg wingerdboukundige), Zinaschke Steyn (Nederburg-wynmaker – rooi), Sameul Viljoen (Nederburg-keldermeester) en Pieter Badenhorst (Nederburg-wynmaker).

Lise Beyers

Paarl Wynstreek het ’n uitstekende vertoning gelewer by die gesogte Michelangelo Internasionale Wyn and Spiritus-toekennings. 

Die trofee vir die top Suid-Afrikaanse produsent het aan die legendariese Paarl-landgoed Nederburg gegaan. Boonop is vyf van die Top 21-klastrofeë ook aan Paarlse wyne toegeken.Vanjaar was die 26ste uitgawe van hierdie hoogs gerespekteerde kompetisie, wat Suid-Afrikaanse produsente die geleentheid bied om hul wyne plaaslik deur ’n ervare paneel van internasionale kundiges te laat beoordeel.

Alle inskrywings word blind beoordeel deur panele van vyf beoordelaars, met behulp van die 100-punte internasionale erkende OIV-beoordelingstelsel.

Volgens Luan Aucamp, voorsitter van Paarl Wynroete, was dit ’n merkwaardige prestasie deur hul onderskeie produsente. 

“Michelangelo bied ’n heel interessante perspektief van hoe ons wyne wêreldwyd beskou word. In totaal het Paarlse wyne 89 toekennings ontvang wat wissel van topprodusent, beste in klas asook talle medaljes.

“”Dit het beslis weer die Paarl Wynroete as ’n hoogs mededingende wynstreek gevestig. Dit is veral bevredigend om die diversiteit van kultivars te sien wat uitgestyg het.

 “Dit sal ongetwyfeld ons reputasie as ’n prominente rolspeler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf versterk. Dit bewys ook dat ons as ’n streek wynliefhebbers ’n wye verskeidenheid voortreflike wyne kan bied wat ’n reeks palette kan bevredig.” 

Wynkelders wat as beste in die klas uitgekom het met die hoogste tellings in hul onderskeie klasse of kategorieë, sluit in Nederburg, Anura, Perdeberg, Ridgeback en Windmeul. Die medaljetog vir die Paarl het voortgegaan met ’n verdere vier platinum medaljes, wat toegeken is aan wyne wat ’n prysenswaardige 96 of meer punte behaal het. 

Boland, KWV, Nederburg en Perdeberg was van die enigste 19 inskrywings wêreldwyd wat hierdie ongelooflike vlak van uitnemendheid vanjaar behaal het. 

Dubbelgoue medaljes vir tellings van meer as 93 punte het gegaan aan nog 31 Paarlse wyne, insluitend verskeie kleiner produsente, wat welbekend is in die internasionale mark. Daarbenewens is daar ook 37 goue en sewe silwer medaljes aan Paarlse produsente oorhandig.

Gaan na www.maiwsa.co.za vir ’n volledige lys van Paarlse wynkelders en hul bekroonde wyne.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article