Die Paarl Krieketklub spog met sy vyfde oorwinning in die Bolandse Premierliga-kompetisie nadat hy verlede Saterdag op die Parysvelde met Paarl-Oos in die plaaslike derby afgereken het.
Die groot skare is tot in die doodsnikke op hul tone gehou, totdat Taigh Schoor die wenlopies in die 49ste boulbeurt kon slaan. Die besoekers het swaar geleef teen Paarlse boulers en dit was slegs die warrelwindbeurt van Nathan Jacobs (36 nie uit nie, 4×4, 2×6) wat hul beurt ’n bietjie aansien gegee het. Fenito Mehl (37, 1×4), Dean Esau (23) en die Paarl Rocks-speler Bamanye Xenxe (22) het gehelp dat Paarl-Oos 169/9 aanteken.
Paarlse boulers Herschelle Poggenpoel (10-0-21-3), Liam Muller (7-2-21-2), Waylain September (10-1-48-2) en Schoor (8-0-31-2) het die skade aangerig.
Paarl was vroeg in die moeilikheid, maar ’n 4de paaltjievennootskap van 69 tussen Akeem Minnaar (25) en Lindley Hendricks (43 in 65 balle, 1×4, 2×6) het die beurt reggeruk. Xenxe (9-1-32-2), Dominic Daniels (7-1-20-1) en veral Jevano Baron (7.1-1-20-1) het goed geboul, maar Schoor en Muller het vasgeskop om te sorg dat Paarl met 3 paaltjies wen.
Sondag het Paarl egter in duie gestort en is uitgeboul vir slegs 100 deur die besoekende Maties. Slegs Poggenpoel (25) en Schoor (26) kon dubbelsyfers in hul 7de paaltjie vennootskap van 56 kry. Die Maties-kaptein, Lehan Botha (7-0-17-3), was die doring in hul vlees, met goeie bystand van Salmaan Ajam (7-3-12-1), George van Heerden (9-2-32-1), Josh Stocks (6-1-10-1) en Fayaad Daniels (3.1-0-10-3). Botha (44, 6×4, 1×6) het hierna onder die boulers ingeklim, om saam met Maahir Joseph (33, 2×4, 2×6) te sorg vir ’n 6-paaltjie-oorwinning.
Die Paarl-span reis Saterdag na Malmesbury, wat verlede week afgereken het met Vredenburg-Saldanha.




