Paarl se twee kapteins met die silwerware – Luke Philander (links) en Aqeeb Douman.Foto:


Paarl Krieketklub (KK) is verlede Saterdag op Dal Josafat as Boland Krieket se T20-Gemeenskapsbeker­kampioen gekroon nadat beide sy spanne met Van Der Stel KK afgereken het.

Paarl het die hoofwedstryd met 72 lopies gewen, terwyl die reserwespan vroeër in die dag met 10 lopies geseëvier het.

Paarl kwalifiseer dus vir die uitspeelwedstryde om die Wes-Kaapse kampioen te bepaal, wat in die nasionale kampioenskap sal meeding.

Eerskomende Saterdag reis Paarl na die Durbanville-krieketvelde waar hy teen die SWD-kampioen (Pacaltsdorp-KK) en die WP-kampioen (Durbanville KK) te staan sal kom.

Paarl se afrigter, Manfred de Kock, is optimisties oor sy span en voel die span se onoorwonne rekord tot dusver dié seisoen bied genoeg selfvertroue. Die kolf­orde is stewig en die keurders moet slegs besluit hoeveel naatboulers om in te sluit.

Durbanville se Daniël Lategan (met ’n gemiddelde van 71.7 hierdie seisoen) en Fritz de Beer is die kolwers wat dopgehou kan word, aangesien De Beer verlede seisoen met die kolfpryse weggestap het. Paarl se naatboulers, Taywin Adams en Tom Stevens, behoort hulle goed van hul taak te kwyt. Onder Durbanville se boulers is Bradley Petersen (2.88 per boulbeurt) en Taswin Lukas (2.96 per boulbeurt) die beste. Paarl se JJ van der Sandt, Darryl Hendricks en Adrian du Toit is egter goed op dreef met die kolf, terwyl die draaiboulers tot dusver dié seisoen die Paarliete se troefkaart was.

Du Toit en Waylain September is die doodsteek van plaaslike kolwers en dit sal interessant wees om te sien hoe hulle teen teenstanders buite die Bolandstreek vaar.

In Saterdag se eindstryd teen Van der Stel het Paarl 175/4 in 20 boulbeurte opgestapel danksy JJ van der Sandt (33 in 19 balle, 5×4, 1×6), Darryl Hendricks (64 in 32 balle, 6×4, 3×6) en Adrian du Toit (30 in 13 balle, 4×6). Elliot Moses (24) se derdepaaltjie­vennootskap van 69 lopies met Hendricks was deurslaggewend. Dylan Ross-Watt (4-0-17-2) was Van der Stel se topbouler.

Riyaad Henry (25) en Rayyaan Rhode (25) het tevergeefs probeer walgooi teen September (4-0-12-3) en Du Toit (4-0-16-3) se linkerhandse draaiboulwerk, maar Van der Stel het 103/8 gehaal.

Paarl se reserwespan het 159/6 opgestapel, met pragbeurte deur Stefan Conradie (40, 5×4, 2×6) en Dian van der Westhuizen (54, 6×4, 2×6), goed bygestaan deur Liam Muller (28 n.u.n). Vir Van der Stel (149/10) het Nolan Reith (49 in 44 balle) goed vasgeskop teen Henrico Albertus (4-0-23-3) en Aqeeb Douman (2-0-17-2), totdat hy met ’n briljante ingooi van Kyle Solomon uitgehardloop is. Saterdag speel Paarl se reserwespan in Idasvallei teen Stellenbosch KK II, terwyl die derde span tuis teen Ceres KK speel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article