Nadat Paarl-rugbyspelers ’n indrukwekkende merk in die WP-Cravenweekspan gemaak het, is verskeie van hierdie spelers vir die SA Skolespan en SA Skole A-span, wat Saterdag (16 Julie) in die voorwedstryd van die laaste toets tussen die Springbokke en die Rooi Drake van Wallis teen mekaar speel, gekies.

Luca Bakkes van Paarl Gimnasium en Shah-Jehaan de Jongh, Thurlon Williams en Matthew Fick, almal van Hoër Jongenskool Paarl, is in die span ingesluit.

Die Gimmies Dario Botha, Enrigue Liedeman en Keanu Coetzee draf vir die SA A-span saam met Boishaai se Bradley Staflief en Jameel de Jongh uit.

Die Westelike Provinsie se o.18-Cravenweekspan, met nie minder nie as 13 Paarl-skole-spelers in hul geledere, het deurgaans in die toernooi vreesloos op die veld uitgedraf.

Die Streeptruie het hul oorheersing van die afgelope dekade op dié jeugweek Saterdag voortgesit toe hulle die Blou Bulle in die hoofwedstryd by Rondebosch Boys’ High in Kaapstad 29-21 geklop het.

Die WP het in ses van die laaste agt toernooie in die hoofwedstryd gespeel en in dié tydperk elke keer bo geëindig.

Hulle het op die eerste dag met Grens (34-18) en daarna met die Haaie (29-24) klaargespeel.

Die Ligbloues het die wedstryd op die perfekte noot begin toe Abri van der Westhuizen gedruk het, maar dit was die WP wat daarna koelkop gebly en die fases begin saamstel het, terwyl foute by die besoekers ingesluip het.

Met rustyd was die telling 14-7 in die WP se guns voordat die Bulle sake weer gelyk gemaak het.

Die WP-haker en Gimmie Luca Bakkes het twee keer van rolmaalbewegings oorgeval, terwyl die regtervleuel, Luke Graham, en die flank Gareth Blackmore die ander drieë afgerond het. Die Gim-losskakel Thurlon Williams het met sy korrelwerk nege punte bygedra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article