Spelers van die Paarl-krieketklub het vanjaar weer eens die klub se naam hoog gehou. Agter, van links, is Ultalyn Erntzen (spanbestuurder), Rainier Beukes, Byron Cook, Andile Matya, Herschelle Poggenpoel, Nathaniel Hendricks, Darryl Hendricks, Brendan Coetzee, Cullen Heugh, Lindley Hendricks en Manfred de Kock (afrigter). Voor is Aqeeb Douman, Taywin Adams, Grant Chordnum, Liam Muller, Akeem Minnaar, Edrique Cook, Jaywin Solomons en Lyndon Fredericks.


Met sy 83-lopie-oorwinning oor die Victoriane Sondag op die Parysveld, het die Paarl-krieketklub (KK) sy Boland-Premierliga-toernooi op ’n hoë noot afgesluit en bewys sy sege op Coetzenburg oor die studente in Februarie was geen gelukskoot nie.

Die tuisspan is ingestuur om te kolf en het in 50 boulbeurte ’n skaflike 242/7 behaal. Dit was te danke aan ’n indrukwekkende aanvangsvennootskap van 64 lopies, met die nuweling Gysbert le Roux (40, 5×4, 1×6) aan die spits. Paarl het gedurende hierdie seisoen verskeie jong spelers ingespan en saam met Le Roux het Koch van Eyssen, Henrico Albertus, JJ van der Sandt, Brendan Coetzee en Taywin Adams met hul talent beïndruk.

Paarl se kaptein, Adrian du Toit (81, 5×4, 6×6), het die pap dik aangemaak en sy 124-lopie-vennootskap om die derde paaltjie met Herschelle Poggenpoel (52, 3×4, 2×6) was deurslaggewend.

Vir die besoekers kon Salmaan Ajam (10-2-33-2) met die beste syfers spog, maar die res van die Victoriane se boulers het deurgeloop.

Albertus (8.2-0-28-5), ’n Boland-o.19-speler, het die Victoriane vasgeknoop met sy linkerhandse draaiballe en hy lyk na ’n soliede belegging vir die toekoms. Die draaikombinasie van Du Toit (10-2-27-2) en Waylain September (5-0-20-2) het die res van die skade veroorsaak en die besoekers is vir 159 uitgehaal. Riaz Paleker (55, 2×4, 3×6) en Kaden Solomons (45, 4×4) het met die kolf beïndruk.

Paarl speel Saterdag op Dal Josafat in die Goldrush T20 Boland Superliga en het die volgende spelers gekies: Adrian Du Toit (kaptein), Darryl Hendricks, Lindley Hendricks, Akeem Minnaar, Waylain September, Javier Visser, Herschelle Poggenpoel, JJ van der Sandt, Taigh Schoor, Taywin Adams, Henrico Albertus, Brendan Coetzee, Jaden Adams, Ali Akbar Shaik en Bradley Petersen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article