Paarl-skole het die afgelope naweek op die sportveld uitgeblink en hul noordelike eweknieë laat les opsê.
En veral vir die Hoër Meisieskool Paarl was dit ’n hoogtepunt in die skool se netbal-geskiedenis toe hulle Maandag in Kimberley as netbal-kampioen van die Absa Wildeklawer-sporttoernooi gekroon is.
Die Paarliete het die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria in die eindstryd behoorlik ore aangesit met ’n oortuigende oorwinning van 22-13.
Die Paarliete se kort, haastige aangeewerk het hulle deurlopend op die voorvoet gehou.
Die Hoër Meisieskool Paarl, wat vanjaar in sy 35 wedstryde onoorwonne is, het in geen stadium die voet van die versneller gelig nie en teen rustyd was die span gerieflik 11-6 in beheer.
Marli Visagie, afrigter van die Paarl-meisies se eerste span, het gesê: “Ons is ’n onderskatte span, want ons het nie die hemelbesems nie. Dié spannetjie stap al ’n lang pad van graad agt af saam en ek glo dis veral vir die matrieks ’n baie groot sege.”
Hulle het die Hoërskool Sentraal (29-19), Stellenberg (28-11) en Menlopark (25-18) op die eerste dag kafgedraf voordat Affies (25-15) en die Hoërskool Rustenburg (27-20) ook verslaan is.
Girls’ High se Renezia Andrews is aangewys as beste speler van die toernooi en Adri Carstens as beste senterbaan-speler van die toernooi.
Op die rugbyveld het Paarl Gimnasium weer gewys waarom hy jaar ná jaar een van die toprugbyskole in die land is.
Hulle het teruggekom ná hul naelskraapse nederlaag onlangs teen Affies en vir die eerste keer in sy geskiedenis Grey-Kollege van Bloemfontein twee keer agtereenvolgens geklop.
’n Titaniese stryd het die kroon op die laaste dag van die Wildeklawer-sporttoernooi gespan waar Gimmies 22-17 baas was.
Die Paarliete se telbord-helde was sy agterste driehoek Enzo Labuschagne, Johandré van Niekerk en Shaun Ray, wat die drieë ingeryg het.
In die afwesigheid van sy ster-losskakel Liam Koen, wat weens ’n skouerbesering waarskynlik die res van die seisoen sal misloop, het die senter P.A. van Niekerk die verantwoordelikhede met die skopskoen op hom geneem, terwyl die plaasvervanger-generaal Kyle Smith homself goed van sy taak gekwyt het.
Die Hoër Jongenskool Paarl het op die laaste dag van die toernooi met die gashere Diamantveld 27-3 klaargespeel en Saterdag Maritzburg College met nog ’n baie indrukwekkende oorwinning 38-3 geklop.
Boland Landbouskool het in die Wildeklawer-sportweek met die Hoërskool Noord-Kaap klaargespeel en 47-7 gewen, maar die span het teen Grey gestruikel en 12-40 verloor.





