Herschelle Poggenpoel met die bal in aksie vir Paarl. Foto: Anan Jacobs

Credit: SYSTEM

Paarl Krieketklub het Saterdag op die Parysveld gewys dat sy Premierliga-oorwinning oor Wellington op die Pen Bassonveld in November geen gelukskoot was nie. Hulle het die besoekers met 3 paaltjies geklop, nadat Wellington 241/6 in hul toegelate 50 boulbeurte opgestapel het.

Op 3/35 was Wellington met die rug teen die muur ná pragtige streepballe van Grant Chordnum (8-0-39-2) en Clint Brockman (7-0-28-1), maar hul kaptein, Tiaan Cloete (101, 6×4, 4×6), het saam met Bjorn Hollenbach (77, 4×4, 3×6) in ’n vierdepaaltjie-vennootskap van 183 kom vasskop. Hul kolftempo (237 balle) het egter druk op die res van die kolforde geplaas en hulle het veral teen die draaiboulwerk van Paarlse kaptein, Waylain September (10-1-21-0), gesukkel. Herschelle Poggenpoel (9-0-54-2) het van beide ontslae geraak.

Paarl se aanvangskolwer, Darryl Hendricks (70 in 75 balle, 8×4, 2×6), was geduldig om in die tuisspan se kolfbeurt die fondasie te lê. Sy 77 lopie-vennootskap met Poggenpoel om die 2de paaltjie het die wind uit die besoekers se seile gehaal. Hierna het Akeem Minnaar (61, 2×4, 5×6) en Lindley Hendricks (17) gesorg vir ’n 56 lopie-vennootskap om die 4de paaltjie, om sout in die wonde te vryf.

Minnaar was vernietigend en sy lopie-totaal vir die liga staan reeds op 421 met ’n gemiddelde van 46.78 per beurt.

Wellington se Roche Du Plooy (10-1-29-1) en Cloete (10-3-35-1) het hard probeer, maar Ruben Minnaar (8-0-52-2) en Shaun Wolmarans (10-0-63-2) het deurgeloop. Paarl se vyfde paaltjie-vennootskap van 47 in 47 balle tussen Lindley Hendricks en Leswin du Plessis (21) het gesorg dat hul span binne trefafstand bly, maar 24 lopies was nog van die laaste 24 balle benodig.

September het egter die bal oor die grens gelig vir ses met ’n omgekeerde veeghou om die tuisspan op die wenpad te plaas.

Paarl speel Saterdag weg teen Vredenburg-Saldanha.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article