Waaierpalms het blare waarvan die segmente soos die lemme van ’n waaier, of die vingers van ’n hand, vanaf die end van die blaarsteel uitsprei. Daarenteen het die Kanariese palm, waarna ons voorheen in dié reeks gekyk het, lemme wat soos die penne van ’n penveer uit die sentrale “ruggraat” van die blaar uitsprei.
Uit die ongeveer 2 600 spesies palmbome wat wêreldwyd voorkom (hoofsaaklik in tropiese of subtropiese gebiede) is ses inheems aan Suid-Afrika. Die bekendstes is waarskynlik die wilde dadelboom, wat van die Oos-Kaap tot in Egipte aangetref word, die lalapalm wat van die suidkus van KZN noordwaarts langs die ooskus van Afrika tot in Somalië voorkom, en die kosipalm uit Kosibaai se wêreld. Laasgenoemde spesie, terloops, het die onderskeiding dat sy veervormige blare wat tot 18 meter lank kan word, die grootste blare is van alle blomdraende plante. (Slegs die reuse-seewier in die Stille Oseaan het langer blare.) Die kosipalm blom net een keer in sy leeftyd. Op ouderdom tussen 25 en 35 jaar verskyn daar ’n massa vertakte blomme waaruit trosse glansende bruin vrugte ontwikkel. Daarna kwyn die boom stadig en swig uiteindelik voor die wind.
Die palms waarop ons vandag fokus se tuisgebied is Noordwes-Meksiko en die halfwoestyn-streke van suidwes-Kalifornië. Vandaar het hulle versprei na baie wêrelddele danksy hulle treffende, karaktervolle voorkoms, tesame met die feit dat hulle betreklik gehard is teen matige koue, met relatief min water kan klaarkom, en besonder lewenskragtig is, veral die Meksikaanse waaierpalm.
Dis nie altyd maklik om die twee spesies van mekaar te onderskei nie, en daarby hibridiseer hulle, iets wat identifikasie-pogings verydel. Die Meksikaanse waaierpalm is die hemelbesem – ’n hoë boom (tot 30 meter hoog), bestaande uit ’n dun stam met ’n knoets blare aan die bo-ent rondom die groeiknop.
Sy Kaliforniese neef is gewoonlik effens korter, ongeveer 18 meter wanneer volgroeid, hoewel dit 25 meter kan haal in gunstige omstandighede. Die Meksikaan se blare is heldergroen, die Kaliforniër s’n effe meer grysgroen. Die Kaliforniër se stam is tipies dikker en altyd kersregop. Albei spesies het filamente, soos garingdrade, aan die rande van hul blaarsegmente, maar dis meer opvallend by die Kaliforniese waaierpalm, vandaar die spesienaam filifera (“filament-draend”). Laasgenoemde spesie is ook meer geneig om sy verdroogde blare aan hul blaarstele te laat afhang om ’n onderrok rondom die stam te vorm, ’n gewoonte wat aan hom die volksnaam “onderrok-palm” besorg het.
By albei hierdie palms kom manlike en vroulike blomme op dieselfde boom voor. Albei se wortelstelsels bestaan uit ’n kompakte bol wortels wat uit die onderend van die stam groei, en wat geen gevaar vir strukture of nabygeleë waterpype inhou nie. Navorsing op die Meksikaanse waaierpalm het bevind dat hy meer as 500 jaar oud kan word. Albei palms het groot, vlymskerp tande op hul blaarstele, en hoewel ’n uitgedroogde blaar nie swaar is nie, wil jy liefs nie in die pad van ’n vallende blaar kom nie. Die uitsny van dooie blare op ’n volgroeide boom is ’n taak vir ’n dapper persoon in ’n hyskraan-hokkie.
Die merkwaardigste eienskap van hierdie wolkekrabber-bome is hul windbestandheid. As ’n mens in gedagte hou dat ’n palmboom se stam nie dikker word nie, en daar dus nie ’n skelet van stewige ouhout in die kern van die stam gevorm word nie, en as jy verder daaraan dink dat palmbome nie ’n spreidende, veelvertakte wortelstelsel het wat hulle anker nie, is dit verstommend hoe goed hulle die krag weerstaan wat stormwinde op die hoë blarekroon uitoefen.
Wanneer laas het jy ’n palmboom gesien wat omgewaai het?





