Johan Rademeyer is oënskynlik ’n nie-amptelike woordvoerder van die Drakenstein-munisipaliteit met sy beskerming van hul besluite oor die oorontwikkeling van die Paarl en Wellington.
Graag wil ek by hom weet wanneer laas het hy in Paarl se Hoofstraat in spitstyd gery? Dit is ’n nagmerrie en hierdie paaie is nie gebou vir hierdie reusetoename in verkeer nie – veral nie die historiese hartjie van die Paarl nie.
Nou is daar sommer ook ’n nuwe woonstelgebou, net af vanaf die Hoofstraat in Brugstraat. Dan word daar ook tans agter die ou huis in Hoofstraat, waar Slug & Lettuce was, ’n woonstelagtige gebou opgerig – dit ten spyte van talle klagte oor beide ontwikkelings wat by die munisipaliteit weer eens op dowe ore geval het.
Die Reitzstraat-ontwikkeling gaan letterlik nog honderde motors na ons strate bring, om nie te praat van nog woonkomplekse langs die Wemmershoek-pad nie, met honderde bykomende huise wat kom.
In die geheel – ons infrastruktuur kan dit als nie dra nie.
Graag sal ek ook wil weet wat gaan gebeur wanneer die droogte weer kom en ons mik dan weer na “dag zero” – waar gaan ons water dan vandaan kom, veral vir die duisende nuwe dors monde wat nou in die vallei woon sedert die ernstige droogte van enkele jare gelede?
Lyk my die munisipaliteit is vasbeslote om so gou as moontlik die hart van die lieflike Paarl en Wellington te verbrokkel. Talle van ons het destyds juis hierheen getrek vir sy lieflike landelike atmosfeer en prag, maar dié word nou eensklaps weggepluk.
Nee wat – hierdie ontwikkelings wat nou links en regs blindelings deur die munisipaliteit goedgekeur word, is niks anders as ’n geldmaakmetode nie sodat die munisipaliteit kan voortgaan om reusesalarisse, bonusse, ens. aan homself te betaal, terwyl die belastingbetaler hemelhoë munisipale tariewe en belastings moet betaal.
Dit maak nie sin nie!




