Die Paarl se Dawn Arendse mik na Mev. Suid-Afrika. Bo spog sy met ’n uitrusting van nog ’n bekende Paarliet, Jacques Lagrange.Foto:


Paarl se Dawn Arendse is pas aangewys as een van die top-30 finaliste van Dallmayr Mev. Suid-Afrika.

Die aankondiging het gevolg op ’n volle dag van beoordeling deur ’n deskundige keurkomitee wat Catherine Constantinides, ’n bekende omgewingskundige en aktivis vir maatskaplike geregtigheid, ingesluit het. Die mediese dokter, model en akteur dr. Fezile Mkhize het by Constantinides aangesluit; entrepreneur en 2020 Mev. Suid-Afrika Jacqueline Ferns; en bekwame sakevrou en 2018 Mev. Suid-Afrika Matapa Maila.

Die beoordeling het uitgeloop op die skouspelagtige swartdas-vertoongeleentheid, waar gaste deur die MC Jo-Ann Strauss, ’n gewilde internasionale spreker, vermaak is.

Joani Johnson, uitvoerende hoof van Dallmayr Mev. Suid-Afrika, het by dié geleentheid opgemerk dat vanjaar se finaliste ’n ware viering van diversiteit en skoonheid in al sy vorme verteenwoordig het.

“Mev. Suid-Afrika is ’n platform wat daarop gemik is om buitengewone getroude vroue uit alle vlakke van die lewe ten toon te stel en te ondersteun, en die beoordelaars was veral beïndruk deur die kaliber van vanjaar se deelnemers,” het sy gesê.

“Soos jy sal sien, kom vanjaar se finaliste uit alle uithoeke van die land, en hulle het almal hulself bewys as uitsonderlike ambassadeurs vir beide ons handelsmerk en vir alle Suid-Afrikaanse vroue.

“Hul talent, skoonheid en vasberadenheid staan as inspirerende voorbeelde vir ons almal, en ons sien uit daarna om nou saam met hulle te werk en te sien wat hulle bereik terwyl ons die laaste deel van die reis na die finale kroning in November 2023 voltooi.”

Dawn het vandeesweek aan Paarl Post vertel dat sy nog altyd ’n aanhanger van skooheidskompetisies was, maar dit nooit ernstig oorweeg het om self deel te neem nie.

“Ek het wel ’n vriendin vir drie jaar probeer oortuig om aan Mev. SA deel te neem.

“En toe het ek een oggend besef, hoekom neem ek nie self deel nie – ‘show up and be seen’.”

Dawn sê dit is ’n ongelooflike ervaring tot dusver om deel hiervan te wees. Sy sê dit is ’n wonderlike bemagtigingsplatform vir vroue.

Dawn, ’n sakevrou en eiendomsagent, is getroud met die Paarlse bouer, Lyndon Arendse, en hulle het drie kinders. Inwoners kan vir Dawn stem deur haar naam en van (Dawn Arendse) na 47587 te sms.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article