Die organisasie Paarl-rugbykode (PRK) sê hy is geskok met die aankondiging deur die Drakenstein-munisipaliteit dat alle Paarl- en Simondium-rugyklubs uitgesluit word uit die burgemeestersbeker-kompetisie wat Saterdag 16 Julie aangebied word – dit op ’n tydstip waar die klubs weer goed op dreef is ná twee jaar se rugby-droogte weens die Covid-19-pandemie.
Die munisipaliteit nooi vanjaar slegs rugbyklubs uit ander dorpe in die munisipaliteit se gebied of klubs wat onder Boland in die wit-sentraal-gebied van Boland val om aan die kompetisie deel te neem.
Volgens die PRK is geen rede hiervoor verskaf nie en die enigste afleiding wat gemaak kan word is dat klubs en skole wat hul rugby onder die vandaal van WPRFU speel, nie in die Drakenstein welkom is nie.
“Die versoek van die Paarl-rugbyklubs is dat Lorenzo Arendse, die burgemeesterskomiteelid vir sport, ontspanning, kuns en kultuur sy ongelukkigheid wat hy teenoor klubs en skole het wat hul rugby in die WPRFU speel, deur die regte kanale soos Saru en WPRFU moet opneem, en nie die spelers, ondersteuners en klubs wat slegs die spel dien, vir eie politieke gewin te na kom nie,” het die PRK in ’n brief aan Paarl Post geskryf.
“Die burgemeester en ander amptenare het reeds genoem dat hulle nie plaaslike rugby in die Paarl ondersteun nie, maar eerder hul rugby in Wellington gaan kyk, wat reeds ’n verdeeldheid en wrywing tussen die dorpe veroorsaak. Die betreurenswaardige besluit wat die DM neem, beklemtoon die DM se sentiment teenoor Paarl-sport. Die Paarl-rugbyklubs het die afgelope twee weke elke week ’n Springbok opgelewer, en tog word teleurstellende besluite deur die burgemeester en Arendse geneem, wat plaaslike rugby benadeel. Hiermee slaag hulle goed daarin om die dorpe binne die DM gebied te verdeel.”
Arendse het op sy beurt gesê die burgemeestersbeker-kompetisie is ’n Boland-rugby-inisiatief. Hy sê die munisipaliteit is deur die Boland-rugbyunie as plaaslike regering vir die beskikbaarstelling van dienste en geriewe gekontak.
“Die skrywer is verkeerd in sy feite en kan nie die munisipaliteit, die burgemeester of beamptes by sportaangeleenthede en -wetgewing betrek nie, maar moet die betrokke provinsiale of nasionale federasies kontak.
“Ons beywer ons om ons gemeenskap deur die beskikbaarstelling van geriewe te dien. Ons steun aan plaaslike rugby is duidelik deurdat alle skole en klubs gelyke toegang tot ons geriewe geniet, hetsy aan Boland-rugby of die WPRFU geaffilieer. Dis ook duidelik in die burgemeester se steun aan skole-“derbies”, hetsy ’n lid van Boland-rugby of WP-rugby.
“Die skrywer moet rugby-aangeleenthede met Boland-rugby of WP-rugby opneem.”. The Paarl Rugby Code is shocked at the municipality’s decision not to include them in the Mayoral Cup.



