Ná 35 jaar van lojale diens verlaat ’n steunpilaar van Paarl Post, sy advertensiebestuurder, Ilse Fourie, die koerant.
Ilse het in Februarie 1989 as verkoopsverteenwoordiger by die koerant aangesluit toe die onderneming nog in die stal van die Retief-broers was. Sy het gou aanklank gevind in die bedryf en is slegs twee jaar later tot verkoopsbestuurder bevorder.
Deur die jare het sy die geboorte en groei van talle Paarl- en Wellington-ondernemings gesien en ’n noue verbintenis met Paarlse sake gehandhaaf.
Vir baie mense is 35 jaar ’n leeftyd en vir Ilse was dit ook ’n tydperk waarin sy geweldige aanpassings en veranderinge in die media-wêreld beleef het.
In die vroeë jare toe sy by die koerant begin werk het, was die bladuitleg weekliks tussen 60 en 72 bladsye met verkope van byna 20 000 koerante weekliks.
Die koerant is boonop destyds met die hand opgemaak.
Stelselmatig het die werk ’n bietjie makliker geraak met die koms van elektronika en natuurlik het die bedryf onomkeerbaar verander met die koms van digitale media.
Dit het veroorsaak dat koerantverkope begin daal en dat adverteerders gratis digitale platforms begin soek het om hul produkte te bemark.
Ilse vertel hoewel Paarl Post se verkope wel gedaal het, geniet die publikasie steeds ’n baie sterk markaandeel met mense wat die publikasie koop vir sy geloofwaardige nuus, terwyl baie in die mark die koerant vir die advertensies koop om juis te lees waar hulle hul geld ten beste kan bestee.
“Ons het ook ’n baie sterk digitale voetspoor op Netwerk24 en News24 asook sosialemedia- volgelinge. Deur die jare was daar baie veranderings, maar die pakket wat Paarl Post bied, is nog dieselfde met gehalte- nuus uit die Drakenstein-vallei asook ondernemings se aanbiedings. Dit is maar net die platforms en die manier waarop die nuus nou aangebied word, wat verander het.”
Nou, ná 35 jaar, het Ilse en haar man, Daantjie, besluit om in Gansbaai af te tree.
Maar, vertel sy, sy sal nooit regtig kan aftree nie, want sy moet besig bly. Hulle gaan ’n klein onderneming in die Overberg open en sy sien daarna uit om meer tyd in haar tuin asook langs die see deur te bring. “Maar die Paarl, sy mense en sakeondernemings sal my altyd bybly. My kollegas was soos familie en my kliënte my vriende.”





