Die vergrootglas is opnuut op die voortbestaan van gedrukte media geplaas nadat Media24 verlede week aangekondig het hy oorweeg om die gedrukte uitgawes van vyf koerante te sluit en drie van hulle net digitaal te laat voortleef.
Daarmee saam doen hy afstand van sy gemeenskapskoerante-afdeling, waaronder Paarl Post en sy susterpublikasies val. Dit volg nadat die mediamaatskappy besluit het om dié portefeulje aan Novus Holdings te verkoop, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring.
Hoewel die nuus beteken dat Paarl Post nie meer onder die vaandel van Media24 sal sake doen nie, hou dit nuwe geleenthede in vir die voortbestaan van gemeenskapsjoernalistiek waarvoor elkeen van ons by Paarl Post ’n diep passie het. Ons lesers kan dus verseker wees ons sal onder die nuwe eienaarskap voortgaan met dieselfde standaard hoëgehalte-gemeenskapsjoernalistiek en kliëntediens wat ons die afgelope byna 120 jaar nagestreef het. Lesers kan gerus wees dat geen onderbreking in Paarl Post se publikasieskedule beplan word nie en enige kommunikasie in hierdie verband asook enige inligting wat lesers en kliënte moontlik kan beïnvloed terwyl die oorskakeling plaasvind, betyds gekommunikeer sal word.
Ons maak staat op jou volgehoue en getroue ondersteuning. Maak seker jy kry weekliks jou Paarl Post, hetsy die gedrukte weergawe of aanlyn. Hier hou óns die Drakenstein-vallei ingelig.
,




