Paarl-Oos-krieketklub (163/8) het Saterdag op die Parysvelde ’n taai wedstryd teen Paarl krieketklub (159/8) in Boland-Krieket se Premierliga gewen.
Weens die klam blad is die wedstryd tot 40 boulbeurte beperk.
Die tuisspan sal hoop om die bordjies te verhang in die laaste wedstryd van die seisoen op die New Orleans-velde.
Die besoekers was vroeg in die moeilikheid op 9/2, maar Deano Esau (44, 5×4) en sy kaptein, Fenito Mehl, (25, 4×4) het die kastaiings uit die vuur kom krap met ’n derdepaaltjie-vennootskap van 73 lopies. Nadat Mehl deur Liam Muller (8-0-24-1) skoon geboul is, het Esau min ondersteuning gekry en dit was net Nathan Jacobs (44, 2×4, 2×6) wat kom wal gooi het. Paarl se draaiers, Edrique Cook (7-0-38-2) en Herschelle Poggenpoel (6-0-22-2), het die meeste skade aangerig.
Paarl se kolwers het erg teleurgestel, met slegs die linkerhandse Jaywin Solomons (66, 6×4, 2×6) wat die mas kon opkom.
Sy aanvangsvennootskap van 36 met kaptein Akeem Minnaar was die beste van die beurt. Jevandre Jacobs (8-0-36-2) en Cody Adonis (8-0-32-2) het vir die besoekers met die bal uitgeblink.
Paarl KK hervat die ligakompetisie op 13 Januarie met ’n tuiswedstryd teen die Maties.




