Die krieketspan van Autoboys Paarl-Oos (Bobbies) het hierdie naweek al twee sy wedstryde gewen en so verseker hy wen die Boland-promosieliga, wat hom ook sy plek in die premierliga verseker het.
Die Bobbies het Saterdag teen Bergrivier KK gespeel en met ’n bonuspunt gewen. Hulle het toe nog net een wedstryd nodig gehad om die liga te wen.
Die Wellingtonners het dit glad nie maklik vir die tuisspan gemaak nie en die Bobbies moes hard veg vir ’n oorwinning om sy onoorwonne status in die 50-beurte-kompetisie te behou.
Sondag was dit Coronations KK se beurt om die “Gabba”, soos die tuisveld van Paarl-Oos bekend staan, te kom besoek. Dit was nogal ’n senutergende wedstryd.
Met albei spanne wat geweet het wat op die spel was, het Roger Cupido, Paarl-Oos se kaptein, besluit om eerste in baie gunstige boulomstandighede te kolf. Maar hierdie besluit het egter vroeg gelyk asof dit die Paarliete in die voet gaan skiet toe Paarl-Oos se aanvangskolwers vroeg kleedkamer toe gestuur is.
Deano Esau (42) het egter tot die redding gekom en die Bobbies met die hulp van Cupido (29) weer in ’n gunstige posisie geplaas.
Die Paarliete het egter op 80/4 gesteier en dit het gelyk asof die manne van Pniël korte mette met die Bobbies gaan maak.
As jy dit nie eens is dat sommige mense soos rooiwyn verouder nie, dan is jy verkeerd, want dit is presies hoe ’n mens die ervare Dominique Daniels kan beskryf . . . hoe ouer, hoe beter.
Daniels het 46 baie belangrike en goed berekende lopies aangeteken. Hy en die jong Colts-speler, Jevano Baron (28), het weerstand gebied teen als wat Coronations na hul kant toe kon gooi, en wat tot ’n 50-lopie-vennoootskap gelei het.
Paarl-Oos het uiteindelik 198 in sy toegelate 50 beurte aangeteken.
Ná ete het Coronations sy beurt begin en Baron het sommer gou toegeslaan en van die aanvangskolwer D. Philemon ontslae geraak. T. van Wyk (42) en Z. Adams (66) het egter ander planne gehad en ’n briljante vennootskap van 71 lopies gemoker.
Dit het die manne van Pniël in ’n gunstige posisie geplaas om die wedstryd te beklink.
Die volgepakte Gabba, wat heeldag luidkeels was, is tot stilte gedwing totdat die staatmaker-linksdraaier Quan Daniels die bal gevat en die kolwers van Coronations met pragtige draaiballe vasgepen en onder druk geplaas deur minimale lopies af te staan.
Hy is goed bygestaan deur sy draaibal-maat Tyrese Hendricks. Hulle het elkeen drie paaltjies op ’n blad wat gunstig vir draaiballe was, laat kantel.
Skielik was die lewe terug in die ondersteuners van Paarl-Oos en die spelers is deur die atmosfeer geraak, wat hulle ook nuwe lewe gegee het.
Baron het die middelorde geruk en met ’n boulontleding van 4/45 geëindig. Die wedstryd was egter steeds in die weegskaal, maar die kaptein van Paarl-Oos het ’n baie ongewone besluit geneem om sy draaiers die bal in die laaste beurte van die dag te gee. Die twee jongmanne het nie teruggedeins vir die uitdaging nie en kalm gebly terwyl hulle Coronations tot 194 beperk het.
Paarl-Oos het met vier lopies gewen en is ook sodoende as liga-wenners gekroon, ook met ’n traan of twee wat tussen die ondersteuners gestort is.
Die span het al agt sy wedstryde gewen en hoop om hierdie rekord te behou wanneer hy die naweek Ceres besoek.
Die klub wil graag al sy ondersteuners, afrigters en borge vir die seisoen bedank.
Met die Premierliga wat wag, wag baie groot uitdagings gewis op die span.





