Die krieketspan van Paarl-Oos het hierdie seisoen seker gemaak sy naam is weer op almal se lippe nadat sy eerste en tweede spanne hul onderskeie ligas gewen het.
Die eerste span is onoorwonne ná nege wedstryde in die Boland-promosieliga. Die span met al sy jongelinge het die hele seisoen uitstekende krieket gespeel en deur middel van goeie spanwerk elke span teen wie hy gespeel het, ore aangesit.
Spelers wat dié seisoen uitgestaan het, was onder andere die 21-jarige Tyrese Hendricks met sy hoogste telling van 101 lopies. Hy en Fenito Mehl (99*) het onderskeidelik die hoogste tellings in die seisoen aangeteken.
Die linksdraaibouler Quan Daniels het gewys dat hy geen gelyke het nie en het 20 paaltjies in agt wedstryde ingeoes, terwyl die Colts-speler Jevano Baron sy veelsydigheid tentoongestel het.
Saterdag was dit die tweede span se beurt vir glorie toe hy Pniël gaan besoek het vir sy wedstryd teen Coronations. Niks minder as ’n oorwinning sou vir die Bobbies doen nie, en dit was presies wat gebeur het. Met die Bobbies wat voor die wedstryd op 31 punte gestaan het – drie punte agter die destydse voorlopers Young Peoples – het Coronations besluit om eerste te kolf.
Paarl Oos se jong seuns het baie goed geboul om die tuisspan onder druk te hou en Coronation het stelselmatig paaltjies verloor.
Coronations se ervare Colin Myburgh het egter ’n vinnige 50-tal aangeteken, maar gelukkig vir die Bobbies het die res van die boulers nie die mas opgekom nie. En danksy die draaiballe van Luthon Truter (4/32) is Coronations tot 140 lopies beperk.
Met sy boulbeurt was Paarl-Oos vroeg in die moeilikheid toe sy aanvangskolwer in die tweede beurt deur Don Hendricks verwyder is. Werner Erasmus (35) het die boulers egter met sy lustige grenshoue besig gehou. Met die val van Erasmus se paaltjie het die Bobbies egter ’n kolfineenstorting soos min beleef en hy was gou in die moeilikheid deur op 80/8 te steier.
Maar die immergroen Elroy Abrahams (36) het tot die redding gekom met sy geduldige krieketstyl en is goed deur Truter ondersteun.
Dié twee kolwers het uiteindelik die wa vir die Bobbies deur die drif getrek.
Paarl-Oos se derdes het tweede in hul liga geëindig, wat dit vir die klub ’n baie suksesvolle seisoen gemaak het.
Die klub se bekeruitdeling en familiedag sal op 26 Maart plaasvind.
Vir meer inligting, bel Jemaine Williams by 074 995 4624.




