Die Paarl Rock Tours-depot in Charleston Hill is verlede Woensdagoggend om 07:00 met ’n watervlak van 1,5 m hoog oorspoel.Foto’s: Verskaf

Credit: SYSTEM

Met die swaar reën wat sedert Woensdag oor groot dele van die provinsie verwoesting gesaai het, moes sommige ondernemings in die Paarl se nywerheidsgebied hul deure tydelik sluit weens erge oorstromings en vloedskade.

Een so ’n onderneming, Paarl Rock Tours in Zuidmeerstraat, Charleston Hill, se verliese beloop miljoene rande wat by die dag toeneem soos hul beskadigde busse geparkeer staan.

Die eienaar, Dawid Kellerman, sê hulle kyk na minstens R8,2 miljoen se skade aan die busse.

Daarby kom ook die verlies aan inkomste van sowat R40 000 per dag.

“Twee van ons Scania Higer-busse ter waarde van R4 miljoen elk, een Volvo-bus van R2,5 miljoen en twee Mercedes-Benz-busse van R1,1 miljoen elk is deur die afgelope oorstromings beskadig.”

Die bestuur het foto’s van Paarl Rock Tours se vloot busse en kantoorblok wat oorstroom is met Paarl Post gedeel.

Dit het uiteraard veroorsaak dat hul dienste tydelik opgeskort moes word, aangesien hul toerbusse so diep onder water was dat voorlopige beramings van die skade onmoontlik uitgevoer kon word.

“Die depot is Woensdag­oggend (14 Junie) om 07:00 met ’n watervlak van 1,5 m hoog oorspoel. Ons het geen waarskuwing ontvang nie en kon nie ons voertuie betyds skuif nie,” het Kellerman verlede Donderdag gesê.

“Ons busse is tans vasgekeer. Dit is baie moeilik om die skade te bepaal en in dié stadium kan geen van ons busse ry nie,” het hy in die hartjie van die storm vertel.

“Ons kantore is geheel en al verspoel. Dit is regtig ’n baie slegte situasie en ons hoop net dat die water spoedig sal daal om die skade te kan bepaal,” het Kellerman gesê.

Pogings is aangewend om ander nywerhede in die gebied in die Paarl te kontak, maar twee ander nywerhede in dié gebied se telefoonoproepe het onbeantwoord gebly.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article