Paarl Krieketklub moes Saterdag tweede viool speel in Vredenburg toe Vredenburg-Saldanha-krieketklub hulle met 80 lopies geklop het in die Boland Premierliga-kompetisie.

Die tuisspan het verkies om eerste te kolf en het 218/7 opgestapel, terwyl die besoekers met slegs 138 kon antwoord.

Die veteraan Shane Summers (60, 2×4, 4×6) was die tuisspan se uitblinker en het die Paarliete gekarnuffel tydens hul 56 balle voor die penne.

Hy is goed bygestaan deur Nathan Engelbrecht (43, 2×4) en Neil Lochner (45, 3×4), terwyl Thomas Kannemeyer (21 nie uit nie) ook goed kom kolf het. Die aanvangsbouler Tylon Matthee (10-3-31-3) het die meeste skade aangerig vir Paarl, terwyl Waylain September (10-0-33-1) en Aqeeb Douman (2-0-8-1) se boulwerk ook die oog gevang het.

Paarl se top-kolwers kon nie die mas opkom nie en die twee wat uitgehardloop is, het hul sake bemoeilik. Dit was Waylain September (45 in 50 balle, 5×4) wat ’n kapteinsbeurt moes kom speel om sy span van vernedering te red. Akeem Minnaar (25, 3×4, 1×6) was die enigste ander kolwer wat weerstand kon bied teen Riaan Smit (10-1-33-2), Quinton Kannemeyer (5-0-13-2) en Lochner (7-0-18-1).

Die Paarlspan het Saterdag ’n loslootjie, met die jaarlikse derby tussen New Orleans SSS en Klein Nederburg SSS wat op die Parysveld gespeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article