Taigh Schoor is op volle vaart met ’n nuwe bal vir Paarl teen Vredenburg-Saldanha op die Parysvelde die afgelope Saterdag.Foto: Ernest Kilowan

Credit: SYSTEM

Die Paarl-krieketklub het Saterdag op die Parysvelde voortgegaan en sy wen-momentum behou.

Dié span het met ’n oortuigende oorwinning van vyf paaltjies geseëvier oor die onoorwonne Vredenburg-Saldanha-klub in die Boland se Premier Liga-kompetisie.

Sterker teenstand is verwag van die besoekers wat in die eerste drie wedstryde alle opposisie uit hul pad gevee het, maar ná 45 boulbeurte kon hulle ’n teiken van slegs 126 stel vir die hoogs gemotiveerde Paarl-span.

Die Krewe het besluit om eerste te kolf, maar Paarl se Taigh Schoor (8-0-14-3) was in skitterende vorm met die nuwe bal en het vroeg-vroeg ontslae geraak van drie kolwers met die hulp van sy kaptein, Waylain September. September het twee blitsige vangskote op tweede glip maklik laat lyk.

Die aanvangskolwer Ismail Gafieldien (75 nie uit nie, 6×4) het tevergeefs probeer wal gooi, maar kon met slegs twee vennootskappe effens weerstand bied.

Willie Engelbrecht het vasgeskop vir ’n tweedepaaltjie-vennootskap van 28, terwyl Quinton Kannemeyer 42 kon help byvoeg om die vierde paaltjie.

Buiten Gafieldien kon geen ander kolwer egter dubbelsyfers haal teen die dodelik akkurate boulwerk van September (9.2-4-9-5) nie, wat ook die Speler van die Wedstryd was. Hy is goed bygestaan deur Faghri Jacobs (10-0-29-1) en Liam Muller (8-0-25-1).

Paarl het goed begin met die eerste­paaltjie-vennootskap van 40 lopies deur Morne de Vries en Jaywin Solomons (23, 3×4), met die jongelinge wat die afrigter se vertroue in hom gestand gedoen het.

Solomons en Muller lyk na goeie beleggings vir die toekoms, terwyl die ervare Herschelle Poggenpoel (35 nie uit nie, 4×4) met vertroue gekolf het.

Paarl II het hard geveg, maar moes die knie buig met een paaltjie teen die Vissermanne in Vredenburg.

Aqeeb Douman (46) en Garth Abrahams (33) het goed gekolf, maar die groot uitblinker vir Paarl was Leswin du Plessis, met 92 nie uit nie.

Vir die Krewe het Henry Pietersen (81) sterk vertoon met die kolf, en is goed bygestaan deur Deon Engel­brecht (33) en Les Goeida (23 nie uit nie), wat die wenlopies kom slaan het. Abrahams (10-0-55-3) was Paarl se beste bouler.

Saterdag reis Paarl na Stellenbosch vir hul kragmeting met die onvoorspelbare Van der Stel-span.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article