Die Paarl-krieketklub was Saterdag terug op die wenpad toe hy in ’n Premierligawedstryd van Boland-krieket op die Idas Vallei-sportterrein oor Stellenbosch-krieketklub koning gekraai het.
Die tuisspan is ingestuur en het teen Paarl se knaende boulaanval gesukkel, met Taigh Schoor (10-5-12-2) aan die spits. Schoor het beïndruk met sy vaart en afwisseling, maar danksy ’n laastepaaltjie-vennootskap van 32 kon Stellenbosch 171 in sy toegelate 50 boulbeurte haal. Curtly Klaasen (43 n.u.n. 2×4), Michael Copeland (35, 2×4, 1×6) en Andy Cupido (24, 1×4) het die beste met die kolf gevaar. Schoor is goed bygestaan deur die draaiers Edrique Cook (9-2-30-3) en die jong Henrico Albertus (10-1-38-2), wat sy buiging in die Paarlse senior span gemaak het.
Copeland het gelyk soos die groot bedreiging, maar ’n slim aflewering van Albertus het hom geflous. Paarl se Liam Muller (5-1-18-0), Grant Chordnum (4-0-13-0), kaptein Adrian Du Toit (6-0-30-1) en Waylain September (6-0-24-1) het self ook die leisels styf gehou.
Met Paarl op 4/60 was die tuisspan met die stert in die lug, maar ’n vyfde-paaltjie-vennootskap van 77 tussen Du Toit en September het sy vuurtjie geblus. Du Toit (37, 3×4) was die ene geduld, terwyl September (59, 6×4) die tuisspan met sy omgekeerde veeghoue gefrustreer het. Muller en September het gesorg vir 31 lopies om die agtste paaltjie om die wedstryd buite bereik van die Stellenbossers te plaas.
Paarl II het vroegdag met Stellenbosch II op die Parysvelde klaargespeel toe die besoekers vir slegs 49 uitgeknikker is, met ekstras (19) die hoogste telling. Paarl se uitblinker met die bal was Mark Pekeur (7-2-17-6), wat kan spog met die beste telling van sy loopbaan. Keagan Whitten (7-1-18-4) het self ook goed geboul.
Paarl se kaptein, Aqeeb Douman (18 n.u.n. 2×4) het geen gras onder sy voete laat groei nie, terwyl Brandon Coetzee (23 n.u.n., 4×4) sy matriekuitslae met ’n 10-paaltjie-oorwinning gevier het.
Paarl speel Saterdag tuis teen Wellington-krieketklub en Sondag tuis teen Worcester United-krieketklub, terwyl Paarl II albei dae reis vir sy wedstryde teen sy eweknieë.





