Die Paarl-krieketklub se spelers het vroeg reeds begin met voorbereidings vir die tweede helfte van die Boland se Premierligakampioenskap, wat eerskomende Saterdag met ’n tuiswedstryd teen die gedugte Worcester United hervat.
Paarl is die voorlopers op die punteleer (18 punte ná vyf wedstryde), met die Victoriane (15 ná drie wedstryde) en Worcester United (15 ná vyf wedstryde) wat in hul nek blaas. Die tuisspan kan dus ’n harde stryd te wagte wees teen Worcester United, wat ook die finaliste van die T20-kompetisie is. Paarl het in die T20-kompetisie teleurgestel en die verwagting is dat Manfred de Kock (afrigter) se spankeuse ’n paar verrassings sal oplewer.
Paarl sal steun op sy draaiboulkombinasie, waar die kaptein, Waylain September, die voortou moet neem. September, een van die Premierliga se voorste boulers, spog reeds met 16 paaltjies (7.56 per paaltjie en slegs 2.47 lopies per boulbeurt).
Die kolwers sal egter moet verbeter, met slegs Akeem Minnaar wat tot dusver die oog gevang het. Hy het 324 lopies in vyf beurte geslaan met ’n gemiddelde van 78.0 per beurt, maar slegs Darryl Hendricks (46.33) en Herschelle Poggenpoel (42.0) kan saampraat.. Die punteleer lyk nou so:
| No. | Klub | Gespeel | Wen | Verloor | Gelyk | Lopie- gemiddeld | Bonus- punte | Punte |
| 1 | Paarl | 5 | 4 | 1 | 0 | 0.70 | 2 | 18 |
| 2 | Victorians | 3 | 3 | 0 | 0 | 3.23 | 3 | 15 |
| 3 | Worcester United | 5 | 3 | 2 | 0 | 0.45 | 3 | 15 |
| 4 | Vredenburg-Saldanha | 5 | 3 | 2 | 0 | 0.27 | 2 | 14 |
| 5 | Paarl-Oos | 4 | 3 | 1 | 0 | 0.17 | 2 | 14 |
| 6 | Maties | 3 | 2 | 1 | 0 | 1.06 | 2 | 10 |
| 7 | Wellington | 5 | 2 | 3 | 0 | -0.37 | 2 | 10 |
| 8 | Van der Stel | 4 | 1 | 3 | 0 | 0.40 | 1 | 5 |
| 9 | Robertson | 5 | 1 | 4 | 0 | -1.52 | 1 | 5 |
| 10 | Malmesbury | 5 | 0 | 5 | 0 | -2.27 | 0 | 0 |





