Die toerspan van Paarl-krieketklub is met ‘n “skoon rekord” terug ná sy Namibiese toer, waar die span verlede week drie wedstryde gespeel het.
Staatmakers soos JJ van der Sandt, Herschelle Poggenpoel, Darryl Hendricks en Stefan Conradie was op hul stukke, en spelers soos Cullen Heugh en Dylan Martin het sterk na vore getree.
In hul eerste wedstryd het hulle die Knights Kriekekklub met 24 lopies geklop, nadat Paarl 161/9 in 20 boulbeurte gekry het. Hendricks (53, 6×4 en 2×6) en Van der Sandt (38, 2×4 en 3×6) het met die kolf uitgeblink, terwyl John Eric Thierauch (4-0-19-2) met die bal beïndruk het.
Die tuisspan het slegs 137/8 behaal, danksy die boulwerk van Taywin Adams (4-0-15-3) en Dylan Martin (4-0-15-2).
In hul tweede wedstryd het Paarl 185 lopies geslaan, met Van Der Sandt (77 in 46 balle, 2×4 en 8×6) en Conradie (47, 5×4 en 3×6) wat in ‘n derdepaaltjie-vennootskap van 98 lopies betrokke was.
Kleilat Krieketklub (65 in 16 boulbeurte) het met 120 lopies verloor ná goeie boulwerk deur Poggenpoel (4-1-14-4) en Martin (3.3-0-12-2)
In hul laaste wedstryd, teen Blue Waters, was Paarl onder druk op 64/3, maar Conradie (33) en Hendricks (21) het die kastaiings uit die vuur gekrap teen die boulwerk van Junior Taanyanda (4-0-24-4). Matthew De Gouveia (20) en Zhivago Groenewald (25) het moedig probeer voordat die tuisspan vir 95 uitgeboul is deur Conradie (3-0-11-4), Heugh (3.1-0-6-3) en Poggenpoel (4-1-15-2).
Paarl se twee senior spanne begin Saterdag hul Gemeen- skapsbeker-titels verdedig, wanneer hulle om 10:00 in Stellenbosch teen Van Der Stel KK te staan kom. Sondag reis Paarl na Caledon om die nuwelinge in die Premier-afdeling aan te durf.





