Paarl-krieketklub se eerste span het verlede naweek met die Young People’s-krieketklub afgereken. Paarl se tweede span het ook geseëvier.


Die Paarl-krieketklub (KK) het verlede naweek sy onoorwonne rekord in Boland Krieket se Gemeenskapsbeker-T20-toernooi behou toe sy eerste en tweede spanne maklik op die Parysvelde teen Young People’s KK en Worcester United KK gewen het.

Dit maak Paarl se twee spanne die gunstelinge om vir die tweede agtereenvolgende jaar in die eindstryde te speel – op 16 November op Bolandpark.

Saterdag se botsing teen Young People’s het op ’n slagting vir die besoekers afgeloop.

Paarl se tweede span het 134/4 in sy 20 boulbeurte behaal, danksy goeie beurte deur die kaptein, Aqeeb Douman, (30; 4×4), Liam Muller (29) en die nuweling James Teddar (36 n.u.n; 2×4, 2×6). Daarna het Muller (4-1-8-4), Kyle Solomon (3-1-2-2) en Henrico Albertus (2-0-7-2) met die bal verwoesting gesaai. Op 8/8 was die besoekers teen die planke. Danksy ekstras (6) kon hulle 18 lopies in nege boulbeurte op die telbord plaas.

Die vegtersbeurte van Elliot Moses (37), Adrian du Toit (29) en Javier Visser (20) het gehelp dat Paarl se eerste span 129/6 teen Young People’s se Clint Philander (4-0-27-3) en Ethan Cupido (4-0-25-2) opstapel.

Taywin Adams het met sy eerste bal die penne ontwrig en die weg gebaan vir Paarl se draaiboulers om amok te maak. Young People’s (49) is met die kous oor die kop huis toe nadat Du Toit (4-0-15-2), Waylain September (4-0-10-3), Herschelle Poggenpoel (1.2-0-4-2) en Luke Philander (4-0-8-2) toegesien het vir ’n bonuspuntoorwinning met 80 lopies, aangesien slegs Lorenzo Jacobs (18) dubbelsyfers vir die besoekers kon kry.

Sondag is Paarl II uitgedaag toe Worcester United II ’n teiken van 128 in 20 boulbeurte gestel het. Bewran Julies (4-0-16-2) en Douman (4-1-27-2) het die meeste skade met die bal vir Paarl aangerig voordat Liam Muller (38 n.u.n), Thorsten Morkel (22) en Douman (23) die wedstryd met ses paaltjies beklink het.

Die eerste span het geswoeg teen die besoekende Charlton Fransman (3-1-10-1) en die kaptein Keegan Lesch (3-0-17-3), maar Visser (28), Du Toit (17) en JJ van der Sandt (17) het Paarl tot 125/9 in 20 boulbeurte aangevoer. Fransman (27) en Lesch (18) het vir Worcester United (98/6) wal gegooi, maar die oorwig was te groot om teen September (4-0-4-2), Poggenpoel (4-0-16-2) en Du Toit (4-0-9-1) staande te bly.

Paarl se twee spanne reis Saterdag vir hul wedstryde teen Vredenburg-Saldanha. Paarl III reis ook vir sy wedstryd teen Wellington KK III.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article