Die Paarl-krieketklub het Saterdag sy aanslag in die Bolandse Premierliga-kompetisie afgeskop met ’n oortuigende oorwinning teen Stellenbosch-krieketklub.

Paarl het 259/8 in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken en die besoekers beperk tot 193 in 43.1 boulbeurte, om te wen met 66 lopies.

Met die skroeiende hitte op die Parys-krieketveld, was dit geen verrassing dat die tuisspan eerste gaan kolf het nie. Die ervare Darryl Hendricks het uit die staanspoor druk op die besoekende boulers geplaas en met die linkshandige Aqeeb Douman ’n vennootskap van 89 vanaf 114 balle geslaan, om die grondslag te lê vir Paarl se middelkolwers. Hendricks (98, 11×4, 2×6) het die eerste twee balle wat hy ontvang het grens toe gejaag, terwyl Douman (40, 3×4, 2×6) self nie op hom laat wag het nie. Mornay de Vries (35, 1×4, 2×6) en Akeem Minnaar (50 n.u.n., 2×4, 1×6) het verder sout in die wonde gevryf, met Minnaar wat sy 50-tal slegs van die laaste bal kon kry. Hul 50-lopie-vennootskap is behaal in slegs 53 balle. Brandon Layman (10-0-34-3) en Jaques Gabriels (4-0-24-4) het die meeste sukses met die bal behaal vir die besoekers.

Layman (19), Calum Moses (18) en Peter Minnis (18) het hard probeer vir Stellenbosch, maar dit was Balthazar Kloppers (46, 4×4, 1×6), Curt Oliver (28, 2×4, 2×6) en die veteraan Timmie Cornelissen (36, 2×4, 1×6) wat die tuisspan laat klippe kou het vir die bonuspunt. Vir Paarl het Tylon Matthee (1/34) en Herschelle Poggenpoel (1/30) paaltjies gekry, maar dit was die ervaring van kaptein Waylain September (9.1-1-39-4) en Edrique Cook (10-3-19-2) wat die hart uit die besoekers se middelorde geruk het. Kloppers en Cornelissen se vyfde paaltjie vennootskap van 52 lopies vanaf 71 balle het die hoop vir Stellenbosch laat opvlam, maar goeie vangskote deur De Vries en Kyle Solomon het hul planne verongeluk.

Paarl reis eerskomende Saterdag vir sy tweede wedstryd in die kompetisie, wanneer hy te staan kom teen Boland se nuwe T20-kampioen, Worcester United, wat 2021 onoorwonne afgesluit het. Sy kaptein Adrian du Toit en Bjorn Cochrane se boulwerk het gehelp met hul T20-oorwinning in Desember en die Paarliete sal vasbeslote wees om die bordjies te verhang.

Paarl II speel op die Parysveld teen Worcester United II.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article