Ten spyte van ’n teleurstellende 146/7 in sy toegelate 50 boulbeurte het die Paarl-krieketklub verlede Saterdag uitstekend teruggeveg om met 11 lopies teen Victoriane in Stellenbosch te wen.
Die tuisspan is binne 35 boulbeurte vir 135 uitgeknikker, wat Paarl sy vyfde oorwinning in die Bolandse Premierliga-kompetisie besorg het.
Paarl is ingestuur om te kolf en was vroeg in die moeilikheid, maar sy aanvangskolwer Morne de Vries (46, 6×4, 1×6) het vasgeskop en was ongelukkig om sy vyftigtal mis te loop.
Ander goeie bydraes het gekom van Herschelle Poggenpoel (21, 2×4) en Kyle Solomon (39 n.u.n, 2×4, 1×6), wat sy vaardigheid as veelsydige speler ten toon kom stel het.
De Vries se tweedepaaltjievennootskap (38) met kaptein Waylain September (18) en derdepaaltjievennootskap (34) met Poggenpoel het die Victoriane in die hitte laat swoeg. George van Heerden (10-0-29-3) het die beste boulsyfers aangeteken.
Die Victoriane het goed begin met ’n aanvangsvennootskap van 30 lopies, totdat Tylon Matthee (5-0-23-1) ’n uitstekende vangskoot van sy eie boulwerk benut het. Grant Chordnum (10-1-35-2) het kort hierna die penne laat spat om toe te sien dat die tuisspan skielik op 30 vir drie moes walgooi.
Paarl se linkerhandse draaiers het daarna beheer van die situasie geneem met September (10-1-33-4) en Poggenpoel (4.5-0-17-1) wat die skroewe stywer gedraai het. Phillip Kleynhans (23) en Darian Naidoo (24) het hard vir die tuisspan probeer, maar twee kolwers is teen die einde uitgehardloop danksy briljante veldwerk deur Poggenpoel en Chordnum.
Paarl speel sy laaste wedstryd in die kompetisie Sondag op die Parysveld, wanneer hy teen Vredenburg-Saldanha-KK te staan kom. Sy T20-nederlaag aan die Weskus in November is nog vars in die geheue en Paarl is oorgehaal vir ’n oorwinning, wat hom moontlik in die topvier in die liga sal laat eindig.


