Paarl KK se Herschelle Poggenpoel stap van die veld af ná sy onoorwonne 73 vir Paarl teen Robertson KK Saterdag op die Parysveld.



Die Paarl-krieketklub het ná sy oortuigende 29-lopie-oorwinning teen Robertson verlede Saterdag die voortou in die Bolandse Premierliga-kompetisie geneem. Paarl het 212/4 in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken, waarna hy sy teenstanders vir 183 uitgeboul het.

Paarl het stadig begin nadat hy die loot gewen het en met die telling op 84/3 ná 30 boulbeurte was Robertson goed in beheer. Die veelsydige Herschelle Poggenpoel (73 n.u.n; 4×4) het egter ’n geduldige derdepaaltjie-vennootskap van 60 lopies met Edrique Cook (34; 2×4) opgebou en daarna ’n vierdepaaltjie-vennootskap van 89 lopies saam met die betroubare Akeem Minnaar (51, 2×4, 3×6). Minnaar het beïndruk met sy tweede vyftigtal in drie beurte en sy drie sesse van agtereenvolgende balle, tesame met ’n warrelwindbeurt deur Morné de Vries (27 in 12 balle; 5×4), het Paarl se kolfbeurt die nodige hupstoot gegee.

Luwayden Swiegelaar, Leswyn Arendse, Gregan Adams en Jupiter Hopp het elk ’n paaltjie vir Robertson ingeoes.

Aubrey Philander, die paaltjiewagter (58 n.u.n; 6×4), het hard probeer om Robertson te help om ’n eerste sege in die kompetisie aan te teken, maar niemand kon lank genoeg by hom bly nie.

Ander goeie beurte is gespeel deur die aanvangskolwer Warick Abrahim (28; 3×4, 1×6) en Amre Konstabel (25; 3×4), totdat ’n briljante vangskoot deur Waylain September, Paarl se kaptein, die gang van die wedstryd verander het. Grant Chordnum (10-1-43-3) het ná ’n lang afwesigheid goed vertoon, terwyl die draaiboulers Edrique Cook (10-4-24-4) en Poggenpoel (2.4-0-15-2) die res van die skade aangerig het.

Die ekonomiese boulwerk van Tylon Matthee (9-0-33-0) en September (10-0-23-3) het egter gehelp dat die besoekende kolwers gedurig onder druk bly.. Groot opwinding word Saterdag op die Parysveld verwag wanneer Wellington KK ’n opskudding teen Paarl wil veroorsaak. Wellington het sy eerste nederlaag in die Premierliga verlede week gely toe hy teen Worcester United op die Pen Basson-veld verloor het. Die feit dat hy in die T20-kompetisie tweede viool teen Paarl moes speel, sal as verdere motivering dien. Die tuisspan sal dus manne soos Muhsin Khan, Kieran Dreyden, Ruan du Plooy en veral sy kaptein, Rueben Minnaar, fyn moet dophou indien hy sy onoorwonne status wil behou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article