Die aankondiger by die onlangse laerskool-atletiekbyeenkomste die afgelope atletiekseisoen het gereeld na Laerskool Courtrai as die hekkie-fabriek van die Paarl verwys.
En die afrigter agter die bestuur van die fabriek is Boland-hekkie-akademie se Monique Janse van Noordwyk.
Hekkies is maar iets wat jy moet bemeester om goed in te vaar, sê sy.
Die Boland-hekkie-akademie se atlete het uitstekend in die 2022-seisoen gevaar.
Die akademie, onder leiding van Monique as afrigter, ook beter in atletiekkringe as Monique Balsamo bekend, het met hierdie inisiatief vorendag gekom toe sy ’n afrigter vir haar dogter, Mia Janse van Noordwyk, gesoek het. Sy het met hartseer uitgevind dat die bekende Marna van der Burg nie meer laerskoolkinders afrig nie, en toe pak sy self die bul by die horings om laerskool-hekkiesatlete van die Paarl en Wellington onder haar vlerk te neem.
“Ja, ek gaan vra nog altyd raad by Marna en my voormalige afrigter, Marcel Otto. Ek kan nie vir beter mentors vra nie,” sê dié afrigter baie nederig.
Monique het ’n vlak 2- ASA-afrigtingskursus deur Boland-atletiek voltooi. Sy was self ’n “yster” in haar dae as atleet en haar medaljekassie doen die praatwerk namens haar. Haar gunstelingitem was die 400 m-hekkies en sy het as jong atleet hierin uitgestyg. Sy het in 1999 ’n silwermedalje by die Suid-Pasifiese Skolespele in Australië gewen. Sy het ook in 2001 ’n vierde plek in die Wêreld-jeugkampioenskap in Hongarye behaal en in 2002 ’n sewende plek by die Wêreld- junior kampioenskap in Kingston, Jamaica. Haar persoonlike beste tyd was 58.42s in die 400 m-hekkies.
Monique het ook aan die 100 m-hekkies, verspring en later paalspring deelgeneem, maar haar liefde was nog altyd die 400 m-hekkie-item.
“Ons het eers vreeslik gesukkel met ’n plek om te oefen, maar die Laerskool Courtrai se hoof het ons tegemoet gekom en ons toegelaat om hul geriewe te gebruik.”
Hulle het vanjaar die vrugte van hul harde werk gepluk met 11 atlete wat in die Bolandspan ingesluit is en vyf wat die Wes-Kaapse span gehaal en aan die nasionale byeenkoms vir laerskole deelgeneem het.
Of sy tevrede is met die atlete se uitslae vanjaar sê die afrigter sy is gewis in haar skik.
“Daar is ’n paar teleurstellings, maar in die geheel het die atlete persoonlike beste tye op die regte tyd gehardloop en die meeste het provinsiale kleure verwerf.”
Dit is ook vir ma en dogter elk ’n uitdaging met Mia as atleet en haar ma as haar afrigter, maar Monique sê sy is ma wanneer hulle tuis is en ‘coach’ as hulle op die atletiekbaan is.
Monique sê sy fokus daarop om die tegniek om aan hekkie-items deel te neem, by haar atlete in te burger saam met ’n liefde vir atletiek en hekkies.
“Al wat dan van hulle verwag word, is om hul beste by die oefeninge en byeenkomste te gee. Ons wil goeie atlete vir Boland en Atletiek Suid-Afrika kweek.”
Die ouers van Monique se atlete kan nie uitgepraat raak oor die wondere wat sy al verrig het nie.
Vir nou, sê Monique, gaan almal ’n blaaskans geniet en sal hulle weer in Augustus volstoom met die oog op 2023 begin.
“Hopelik kan ons ook meer tyd op die tartanbaan kry en uit ons foute van die 2022-seisoen leer.”
Die uitslae van Monique se atlete wat by die nasionale laerskole-kampioenskap in Potchefstroom deelgeneem het, was:. John Aylward: 5de in die 75 m-hekkies en 4de in die 150 m-hekkies;. Chloe Stoffels: 5de in die 75 m-uitdun en 6de in 200 m-hekkies;. Nicolaas Basson: 8ste in die 70 m- hekkies en 1ste in hoogspring; en . Mia Janse van Noordwyk: 2de plek in die 70 m-hekkies, 1ste in hoogspring en 3de in verspring.





