Die rommel wat die vloedwaters verlede Desember op die hoek van Tennant- en Ambagsvalleistraat in Paarl-Oos agtergelaat het.Foto: Chantélle Hartebeest


’n Inwoner van Tennantstraat in Paarl-Oos sê haar klagtes aan Drakenstein-munisipaliteit om rommel te verwyder wat agtergelaat is deur die vloed in Desember val op dowe ore.

Audrey Cupido-Jacobs vertel dat haar huis oorstroom het op 12 Desember verlede jaar toe daar ’n groot wolkbreuk in die Paarl en omliggende dorpe was. Die vloed het klomp rommel agtergelaat naby waar sy woon op die hoek van Tennant- en Ambagsvalleistraat.

“Modderwater het kniediep deur my huis geloop. Meubels is verrinneweer, asook ingeboude kaste in die kombuis en slaapkamer. Dit is wel iets wat ons versekering gaan uitsorteer.

“Maar buite is chaoties. Ek het toe die munisipaliteit gekontak om te kom skoonmaak. Ek het gevra dat hulle asseblief die rommel kom verwyder en kom skoonmaak langs die erf in die straat.

“Maar ek wag nou nog vir hulle. Hulle het elke keer vir my ’n ander verskoning. Die eerste keer het hulle gesê hulle is in groepe verdeel en hulle gaan nog kom. Toe ek weer bel, is daar vir my gesê hulle is besig om uit te sorteer wie die rommel moet verwyder.”

Die 65-jarige Cupido-Jacobs sê sy het minstens twee keer per week sedert die vloed die munisipaliteit gekontak.

Gerald Esau, Drakenstein-munisipa­liteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het by navraag gesê die munisipaliteit se vaste-afval­bestuur-afdeling het Dinsdagoggend (10 Januarie) reeds aandag aan hierdie klagte gegee.

Waarom die skoonmaakproses so lank duur, sê hy: “Die stormsterk wind en swaar reën wat die Drakenstein munisipale area in laat 2022 geteister het, het nie slegs paaie vol sand en ander afdrifsels gelos nie, maar ook bome ontwortel en infrastruktuur beskadig. Die storm het baie verwoesting agtergelaat; as sodanig moet die munisipaliteit die herstel- en skoonmaakwerk in ooreenstemming met die beskikbare mannekrag prioritiseer.”

In dieselfde omgewing is ’n groot gat op die hoek van Abattoir- en Wynbergstraat. Die gat het ontwikkel as gevolg van die vloed. Inwoners beskou dit as ’n gevaar vir motoriste omdat dit nie sigbaar is in die aand nie, want die weerkaatsers lê plat in die straat.

“Die herstel van die verspoeling te Abattoir- en Wynbergstraat is vir Drakenstein-munisipaliteit ’n prioriteit. Die herstelwerk sal sonder versuim begin en so gou moontlik voltooi word,” sê Esau.

“Daar is reeds padtekens en sandsakke uitgesit om motoriste te waarsku. Die publiek word versoek om nié hierdie tekens en sakke te verwyder nie.”

Die heining van die tennisbane naby die gemeenskapsaal het ook deurgeloop tydens die vloed en is platgetrek deur die stormsterk water. Volgens Esau is ’n versekeringseis ingedien om die skade aan die tennisbane se heining te herstel. Hy sê in afwagting op die uitkoms van die eis sal die sport-afdeling van die munisipaliteit intussen ’n tydelike heining gedurende die week van 16 Januarie oprig.

Esau het voorts gesê daar is steeds opruimingspanne wat die rommel wat agtergelaat is deur die vloed optel.

“Die munisipaliteit is tans besig met die opruiming van alle hoofroetes in Paarl en Wellington (onder meer Hoofstraat, Bergrivier Boulevard en Jan van Riebeeck-rylaan). Ander areas wat ook deur die vloed geaffekteer is, geniet ook dringende aandag.

“Alle werk geskied in samewerking tussen ingenieurswese en gemeenskapsdienste. Inwoners word ook aangemoedig om klagtes op SeeClickFix aan te meld.”

. A Paarl East resident feels her complaints to Drakenstein Municipality to remove rubbish left behind by the December flood are falling on deaf ears.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article