Lede van Paarl-Noord se operasionele span tydens Vrydagaand se optrede in hul gebied.Foto:


AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag het deelgeneem aan AfriForum se nasionale massapatrollie wat op Vrydagaand 14 Julie en Saterdag­oggend 15 Julie plaasgevind het.

Die massapatrollie het begin met ’n gesamentlike patrollie van alle rolspelers deur Noorder-Paarl om 16:30 op Vrydag 14 Julie, en afgesluit met ’n laaste patrollie en ’n finale verslag aan AfriForum-Suidstreek se hoofkantoor om 06:15 op Saterdagoggend 15 Julie.

Gedurende hierdie tyd was daar deurlopend ’n hoofkantoor in Noorder-Paarl wat in radioverbinding was met alle patrollies, asook veiligheidsdienste wat deelgeneem het en mekaar om die beurt bygestaan het.

Twaalf voorvalle is gerapporteer waarin verdagte mense en voertuie op vreemde tye in Noorder-Paarl se strate gesien is, groepe mense wat drink in die openbaar en groepe mense wat op pad was na ’n berugte dwelmhuis in St. Francislaan. Die verdagtes is gevra om die buurt te verlaat. In verskeie gevalle is skerp voorwerpe gekonfiskeer en die patrollie het na raming 12 moontlike strafregtelike voorvalle voorkom.

“AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag wil graag die volgende rolspelers bedank: al ons vrywilligers en ondersteuners, ADT, WOLF en Vetus Schola se besture en patrolliemanne, NG kerk Paarlberg vir die gebruik van hul perseel as vergaderpunt en Micromath wat radio’s vir die aand beskikbaar gestel het,” sê Jaco Prins, voorsitter van AfriForum se Paarl-tak.

Die Paarl-Noord-buurtwag het onlangs oorgeskakel na ’n AfriForum-buurtwag, en met die suksesse van hul eerste massa-patrollie is dit duidelik dat hulle gretig is om aktief betrokke te wees by die verbetering en beveiliging van die gemeenskap.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om aan te sluit by AfriForum se Paarl-tak en die Paarl-Noord-buurtwag, wat die gebied tussen Langstraat en Retiefstraat bedien, en deel te raak van die positiewe verandering wat voorlê.

Aangesien die Wes-Kaap die afgelope tyd deur ’n misdaadvlaag getref is en veral die aantal plaasaanvalle kommerwekkend hoog is, is besluit om sigbaarheid met dié patrollie te verhoog.

AfriForum se buurt- en plaaswagte, veral die splinternuwe strukture in die Paarl, Gordonsbaai en Hopefield, het hulle goed van hul taak gekwyt. Die opskerping van patrollies en bemanning van observasieposte help nie net met misdaadvoorkoming nie, maar ook met die insameling van inligting. Verskeie inhegtenisnemings is in samewerking met die plaaslike polisie uitgevoer en verkeersboetes van meer as R20 000 is uitgereik.

“Die statistieke toon duidelik hoe misdaad toeneem, daarom is ons dankbaar vir dié inisiatief wat inhegtenisnemings moontlik maak en help om misdaad te voorkom. Oor die algemeen is daar ’n goeie samewerkings­verhouding tussen die polisie en ons buurtwagte en daarom word suksesse behaal. Ons wil graag ander polisiekantore en hul lede aanmoedig om ook betrokke te raak,” sê Johan Crous, distrikskoördineerder vir die Weskus.

. Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-tak of -buurtwag betrokke te raak. Vir meer inligting, skakel Johan Crous by 081 217 0150.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article