Die bekroonde skrywer en boorling van Paarl Kirby van der Merwe stel Vrydag 27 Mei sy jongste roman Eugene by ’n gratis geleentheid in samewerking met die Historium Trust en NB-uitgewers by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) bekend.
Dié aangrypende boek oor vriendskap en verraad word beskryf as “ ’n gatskop-roman oor die agterjaarts en die langstoepe van die sixties en die seventies”. ’n Prikkelende gesprek tussen hom, Michael Jonas (die ATM se direkteur), en Jean Meiring (die ATM se raadsvoorsitter) beloof om gaste ’n fassinerende insig op hierdie joernalis-outeur en sy boek te gee.
Besoekers sal daarna vrae kan stel.
Kirby het met Paarl Post gesels oor sy lewe in die vallei as kind en sy verdere skryfloopbaan:
Vertel vir ons van jou mense en jou jeug?
Ek is in die Paarl gebore – binne hoorafstand van die Laerskool Ebenezer – en het aan die Hoërskool Noorder-Paarl gematrikuleer. Ek is die derde van sewe en met ’n ouer suster en broer reeds op skool, was ek op vyf reeds bekkig en skoolgereed en terstond skool toe gestuur.
Hendrik van der Merwe, my oupa aan vaderskant, was ’n hoefsmid (blacksmith) op die Rug. Die groot werkswinkel was in bedryf tot die vroeë 1960’s. My pa, Moos, het deeltyds perde op plase beslaan. Sy broer, ook Hendrik, was hoefsmid van beroep. Ek self besit al die gereedskap en toebehore van ’n volledige smidswinkel én ’n lewendige belangstelling in die bedryf. Aan moederskant, messelaars en timmermans. My sibbe was in die onderwys.
Wat is jou herinnering oor jou grootword dae in die vallei?
Sjoe, daaroor kan ek volumes skryf. Uiteraard vind kinderdae-herinnerings neerslag in my skryfwerk, soos in my debuutroman Klapperhaar slaap nie stil nie (Kwela, 1999) en my nuutste, Eugene, wat pas by Human&Rousseau verskyn het.
Was jy reeds op skool ’n kranige skrywer?
Nee, inteendeel. Ek het onder dwang van die rottang opstelle en briewe geskryf. Tog was ek ’n kranige leser wat reeds op hoërskool die bekende klassieke boeke deurgedraf het en reeds destyds, nadat ek die Heinemann African Writers Series se boeke ontdek het, geweet het ek gaan my eie romans skryf.
Wat het jy ná skool gedoen en waarheen het dit jou gelei?
Ek het by die Hewat-opleidingskollege ingeskryf en kunsonderwyser geword. Toe besluit ek eendag, hoe moeilik kan dit wees om gedigte te skryf? Dié gedigte is gekies vir die digbundel Nuwe Stemme 1. Van dié gedigte is in die Groot Verseboek en in Gerrit Komrij se ikoniese bundel De Afrikaanse poëzie in duizend en enige gedichten opgeneem.
Van my kortverhale het in literêre tydskrifte verskyn en is in verskeie kortverhaalbundels opgeneem. Ek het ná die verskyning van my eerste roman assistentboekeredakteur en joernalis by die tydskrif Insig geword. Daarná was ek skrywer by Huisgenoot in Johannesburg en joernalis by die dagblad Beeld.
Kan jy vir ons van jou eie gesin vertel?
Ek het drie dogters. Ek en my vrou, Ilze le Roux, woon in Johannesburg, maar kuier gereeld by my huis iewers aan die Weskus.
Vertel ons ’n bietjie meer oor Eugene?
Eugene is ’n moetlees vir mense wat die 1960’s, ’70’s en ’80’s beleef het. Eugene is ’n produk van dié tyd in die Boland en die Kaap en alhoewel die karakter én die roman fiksie is, vertel en dokumenteer dit ’n belangrike versweë stuk geskiedenis.
Eugene het reeds die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021 verower en word in die media geprys. Rapport meen “dit is geskryf in ’n taal wat nie huiwer om woorde soos vuishoue te plant nie; tog slaag dit daarin om met besondere gevoeligheid die kompleksiteit van ’n hele geslag mense se lewens vas te vang”. . Die geleentheid is om 19:00 vir 19:30 en vind in die Taalmonument se Besoekersentrum plaas, waarna gaste na die ATM se koffiehuis genooi word vir gratis verversings en die kans om kopieë van die boek aan te skaf.
Weens die beperkte ruimte is besprekings nodig. Kontak Verinque Daniëls via vakkundige@taalmuseum.co.za of 021 863 0543. Belangstellendes kan ook hul boekbestellings by Ilze le Roux via ilzelerouxsa@gmail.com plaas.





