Om ’n kind groot te maak by wie outisme gediagnoseer is, bring baie uitdagings teweeg, maar maak nie saak watter struikelblokke oor hul pad kom nie, Liezel van Niekerk is vas oortuig haar sewejarige seuntjie is haar grootste seëning.
Van Niekerk vertel dat Christiaan sowat 19 maande oud was toe sy agterkom hy is anders as ander kinders van sy ouderdom. Hy kon op daardie jong ouderdom reeds tot by tien tel en kon die verskillende vorms ook identifiseer.
“Hy het ook alles volgens kleur uitgesorteer, soos sy Smarties, voordat hy dit dan kleur vir kleur geëet het. Ek het nie dadelik vir ’n mediese opinie gegaan nie.”
Volgens Van Niekerk was dit amper soos ’n vuishou in haar maag toe outisme amptelik in 2018 by Christiaan op twee en ’n half jaar gediagnoseer is.
“ ’n Mens voel of jy niks weet nie, net nadat jy gedink het jy het hierdie ma-wees-ding onder die knie, word die mat behoorlik onder jou uitgeruk!
“Ek dink aan die begin gaan jy deur ’n rouproses van ontkenning, woede en selfbejammering totdat jy by aanvaarding kom. Die prentjie wat jy oor jou kind in jou kop gehad het, is weg. Daai kind in daai prentjie is dood en jy moet ’n nuwe prentjie kry vir die kind wat baie lewendig hier voor jou is, die kind wat jy vir niks sal verruil of wil verander nie. Dié prentjie het baie meer uitdagings en onbekendes, maar dis ook baie meer kleurvol. ’n Mens wil net alles probeer om die lewe vir jou kind makliker te maak en ons is steeds besig om te leer hoe om dit te doen, elke dag!”
Elke jaar in April word die kollig op die bewusmaking van outisme geplaas.
Paarl Post het verlede week met Ingrid du Toit, bestuurder is van die plaaslike outisme-skool in die Paarl, Boland Skool vir Outisme, gesels.
Du Toit verduidelik outisme spektrumversteuring (OSV) is ’n neuro-ontwikkelingsversteuring wat kommunikasie en gedrag affekteer.
“Hoewel outisme op enige ouderdom gediagnoseer kan word, word dit dikwels ’n ontwikkelingsversteuring genoem omdat die simptome in die eerste twee jaar van ’n kind se lewe verskyn,” sê sy.
- Volgens die sluit die struikelblokke waarmee individue met outisme soms sukkel in kommunikasie en interaksie met ander mense sowel as beperkte belangstellings en herhalende gedragspatrone, en ander simptome wat ’n persoon se vermoë belemmer om te funksioneer by die skool, die werk en ander lewensterreine.
Klein Christiaan is ’n leerder aan die Boland Skool vir Outisme.
“Hy is baie liefdevol en nogal baie sosiaal. Hy is gedurig besig om sy sak te pak om iewers te gaan kuier. Christiaan het ’n groot liefde vir musiek – van kletsrym tot klassiek – en is permanent besig om iets op te voer.
“Die dinge waarmee Christiaan sukkel, is nuwe omgewings, verandering, die onbekende en grootliks kommunikasie.
“Al dié dinge het al soveel verbeter sedert hy in 2022 by Boland Skool vir Outisme begin het.”
Van die uitdagings wat Van Niekerk as ’n ma ondervind, is dat sy nie sommer enige plek wil besoek nie omdat mense wat nie Christiaan se versteuring verstaan nie, soms staar wanneer haar kind nie “normaal” vir sy ouderdom optree nie.
’n Ander uitdaging wat sy ervaar is siekefondse wat nie outisme erken as ’n gestremdheid nie. Dit beteken die kostes van ekstra terapie (spraakterapie, arbeidsterapie, sielkundiges) delf diep in haar sak, en dit plaas verdere finansiële druk op haar.
’n Boodskap wat sy wel met ander wil deel, is: “Moenie kwaad raak as jou vriende met outistiese kinders gedurig jul uitnodigings na uitstappies of geleenthede van die hand wys nie en moet asseblief nie ophou om hulle te nooi nie.
“Wanneer die regte geleentheid hom voordoen, sal daardie gesin met graagte saamgaan.
“Leer julle kinders van jongs af dat almal verskil. Outisme is nie noodwendig iets wat jy raaksien nie, maar dit maak dit nie minder moeilik vir die mense wat dit moet hanteer nie.”
Raad wat Van Niekerk met ander ouers wil deel wat dieselfde pad stap, is om vir jouself ’n ondersteuningsnetwerk daar te stel. Volgens haar is die belangrikste om eers om te sien na jou eie emosionele welstand.
“Emosioneel is dit maar ’n baie uitputtende, eensame pad. Depressie en angs kry ’n mens regtig onder op die moeilike dae, maar op die goeie dae kan ’n mens nie anders as om so dankbaar te wees vir hierdie spesiale kind wat God aan jou toevertrou het nie.”





