Oumagrootjie wie met agter-kleinkinders op Bainskloofpas verongeluk, se psigiatriese verslag wys sy was ‘impulsief’

Caleb (7), Gradwille (4) en Joshua (18 maande) Booysen. Foto: Argief


Die Wellingtonse oumagrootjie, Susana “Sarie” de Villiers (69), wat verlede jaar aangekla is van die moord op haar drie agter-kleinkinders, asook strafbare manslag en nalatige bestuur, het haar psigiatriese toetse geslaag, wat onlangs by die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal voltooi is.

De Villiers het op 20 November 2021 sowat 80 m by die berg van Bainskloofpas afgery, en die dood van Caleb (8), Gradwille (5), en Joshua (18 maande) Booysen veroorsaak, terwyl sy self die ongeluk oorleef het.

Die drie kinders het die dag by De Villiers, haar man, Ivan de Villiers, ’n prokureur in Wellington, en hul oupa, Carl Smit, in Wellington gekuier.

Ded Villiers is later die middag met die kinders in haar motor weg en was veronderstel om die drie broers by hul pa, Carl Smit jr., se huis in Groenheuwel, Paarl-Oos, af te laai.

Die kinders het egter nooit by hul pa aangekom nie. Sarie het met hulle by Bainskloofpas opgery, deur versperrings wat opgerig is weens destydse padwer­ke. Op die kruin van die pas het die motor waarin sy en haar agter-klein­kinders gery het teen die berg afgestort.

Al drie kinders is oorlede, maar Sarie het wonderbaarlik oorleef. Ná die ongeluk was sy weke lank in Paarl-hospitaal.

Volgens die psigiatriese verslag wat op 20 Junie voltooi is, en wat Paarl Post onder oë gehad het, is bevind De Villiers “is nie geestelik siek nie” en “geskik om verhoor te word”.

Haar [De Villiers se] optrede rondom die tyd [van die ongeluk in Bainskloof] het gelyk asof dit doelgerig, maar impulsief was. Haar optrede was nie as gevolg van ’n geestesongesteldheid nie [en] sy is bewus van die aanklagte teen haar en sal haar prokureur opdragte kan gee.
Psigiatriese verslag

“Haar [De Villiers se] optrede rondom die tyd [van die ongeluk in Bainskloof] het gelyk asof dit doelgerig, maar impulsief was. Haar optrede was nie as gevolg van ’n geestesongesteldheid nie [en] sy is bewus van die aanklagte teen haar en sal haar prokureur opdragte kan gee,” voer die verslag aan.

Die feit dat De Villiers se agterkleinkinders se ouers, sowel as De Villiers se seun, almal dwelmmisbruikers was, word in die verslag as rede geopper vir De Villiers se “impulsiewe” beweerde oortreding.

“Sy [De Villiers] kon die onregmatigheid van die beweerde misdryf insien en het daarvolgens opgetree.”

In die verslag word aangevoer dat De Villiers se grootwordjare “normaal” was en dat sy geen trauma ervaar het nie, maar dat sy wel ’n paar simptome van depressie gehad het voor die beweerde oortredings.

Voorts is daar gemeld sy is twee keer getroud, tans met Ivan de Villiers, reeds vir 38 jaar, met geen biologiese kinders uit die huwelik nie.

Die verslag voer aan dat die onnatuurlike sterfte van Ivan se dogter, Adri-Marie (37) in 2020 wat sy “grootgemaak het soos haar eie” ’n emosionele letsel agtergelaat het.

Susana “Sarie” de Villiers (69). Foto: Argief

Adrie-Marie het is dood weens brandwonde wat veroorsaak is deur metanol-gel wat vlamgevat het terwyl die familie potjiekos gemaak het, het Paarl Post vroeër berig.

Die verslag voer aan dat dié gebeurtenis “aansienlike trauma en verlies veroorsaak het wat groot benoudheid in haar [De Villiers se] lewe veroorsaak het” waarvoor anti-depressante voorgeskryf is, maar dat De Villiers “geleer het om dit [die verlies van Adrie-Marie] te hanteer”.

Die verslag maak ook melding van dwelmmisbruik.

“Die ouers van haar [De Villiers se] agterkleinkinders was albei dwelmmisbruikers wat dikwels besope by haar huis aangekom het en ’n herrie veroorsaak het. Sy voer aan dit het enorme druk op haar huwelik en die geestelike welstand van familie geplaas. Sy het bygevoeg dat maatskaplike dienste toepaslike plasing en intervensie [van haar agterkleinkinders] vertraag het. Sowat ’n week voor die beweerde oortredings het sy oorweldig gevoel deur die lewensomstandighede van haar agterkleinkinders wat in pleegsorg geplaas is.”

“De Villiers het ’n betreklik normale lewe gelei en het nooit psigiatriese intervensie of hospitalisasie nodig gehad voor hierdie [beweerde] oortredings nie. Sy het egter moeilike ouerskap verduur met haar middelseun [Carl Smit] en sy seun [Carl Smit jr.], wat albei poli-middelmisbruikers was.
Psigiatriese verslag

“De Villiers het ’n betreklik normale lewe gelei en het nooit psigiatriese intervensie of hospitalisasie nodig gehad voor hierdie [beweerde] oortredings nie. Sy het egter moeilike ouerskap verduur met haar middelseun [Carl Smit] en sy seun [Carl Smit jr.], wat albei poli-middelmisbruikers was.”

Die saak is uitgestel tot 22 Januarie wanneer De Villiers weer in die Worcester-landdroshof sal verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article