Vaderskap het ’n nuwe lig gebring in die lewe van die bekroonde joernalis Ivor Price. In sy suksesvolle loopbaan het hy al baie rolle aangeneem, onder meer radio-omroeper en televisie-aanbieder, maar niks kan vergelyk word met sy rol as pappa nie.
Price, wat deesdae die Paarl sy tuisdorp noem, vertel hy het reeds in sy vroeë twintigs besluit hy wil ’n pa wees en wil ’n kind aanneem, maar sy werkprogram het dit ongelukkig nie toegelaat nie.
Twee jaar gelede, met sy 40ste verjaarsdag en die begin van die koronavirus-pandemie, het Price vir homself gesê dit is nou of nooit en die aannemingsproses aan die gang gesit.
Hy wou nie die proses langer uitstel nie en wil ook nog die beste jare van homself vir sy kind gee.
“Die aannemingsproses was nogal intens. Dit voel of elke deel van jou lewe oopgevlek word – van jou geldsake tot jou geestesgesondheid. Maar noudat ek daarop terugkyk, is alles in minder as ’n jaar afgehandel, wat eintlik heel redelik is.”
Dit was liefde met die eerste oogopslag toe hy sy seun die eerste keer sien. Ná hul eerste ontmoeting glo Price vasbeslote dat sy seuntjie eerder hom as sy pa gekies het – op ’n geestelike vlak.
“Van die eerste oomblik af het dit gevoel of ek hom nog altyd ken; of sy babalyfie gemaak is om in hierdie pappa se arms te lê.
“Hy het grootoog na my gekyk en geglimlag, asof hy wou sê: ‘Pappa, ek het jou gevind.’ ”
Dis nie altyd dat ’n mens hoor van ’n man wat alleen ’n kind grootmaak of aanneem nie, maar Price voel dit maak hom nie juis besonders nie. Hy sê daar is hordes vroue wat elke dag die taak as enkelouer aanpak en nie ’n medalje daarvoor kry nie.
“Ek was nogal bevoorreg om voor die tyd ’n paar ouerskapklasse te loop, wat my op van die praktiese dinge voorberei het. Maar die feit dat ek ’n enkelpa is, is eintlik nie spesiaal nie – soveel vroue in ons land maak tog elke dag alleen kinders groot sonder om ’n medalje daarvoor te verwag. Ons het ons ritme gevind, maar dit bly uitdagend om die perfekte balans tussen werk en my gesinslewe te vind.”
Price sê dit is nie ’n geheim dat daar baie afvlerkmans in Suid-Afrika is wat nie pa staan vir hul kinders nie. Hy meen die afwesigheid van pa’s in hul kinders se lewe het ’n hele “rits negatiewe gevolge” op die kinders se lewe. In dieselfde asem moedig Price ook mans, wat wel kinders het, aan om beter te doen.
As daar mans is wat ook die begeerte het om alleen ’n kindjie aan te neem, moet die besluit uit die hart kom, voel Price. Hy beklemtoon dat dit nie ’n maklike taak is om ’n kind alleen groot te maak nie.
“Om ’n enkelouer te wees, sit nie in enigeen se broek nie. Dis besonder uitdagend. As jy nie doodseker is dat jy jou kind elke dag vir die res van jou lewe eerste kan stel nie, moet jy dit eerder nie doen nie. Ouerskap is ’n goddelike geskenk.”
Price doen ook alles self wanneer dit kom by bottels maak, doeke ruil en laatnagte regop sit wanneer die kleintjie wakker is. Om laat te slaap, is ook verby, want hy moet douvoordag opstaan en sy seuntjie regkry vir dagsorg.
“Ek is wel geseënd met ongelooflike ondersteuning van familie en vriende. My ouers slaap elke nou en dan by my huis oor wanneer ek vinnig vir ’n dag of wat moet reis, en my vriende bederf my seun tot in die afgrond in.”
Vaderskap het ’n algehele ommeswaai in sy daaglikse lewe veroorsaak – van sy werkroetine tot sy sosiale lewe. Elke besluit wat hy nou maak, is met sy seuntjie as sy eerste prioriteit in gedagte.
Price se woorde is vol liefde en trots wanneer hy spoggerig van sy seuntjie praat.
“Hy word later in Junie al 11 maande, en hy is ver vooruit met al sy mylpale. Hy’t al op agt en ’n half maande begin stap en babbel onophoudelik. Dit voel of ek uitgekies is om greatness groot te maak.”
As daar een groot les is wat vaderskap Price kom leer het, is dit die belangrikheid om na jouself om te sien. Hy sê: “As jy nie na jou geestelike, gemoeds- en fisieke gesondheid omsien nie, sal jou kinders nie jou beste kry nie. En hulle sal nie ’n voorbeeld hê van hoe om dit self te doen nie.”
Hoewel hy nie iemand is wat ’n groot bohaai maak oor spesiale dae soos Valentynsdag of selfs Kersdag nie, kyk Price vanjaar self op Vadersdag met nuwe oë en met nuwe respek na sy eie pa.
“My pa was nog altyd my held. Hy praat net wanneer dit nodig is, en is ’n uitsonderlike rolmodel van hoe ’n man met sy kinders te werk behoort te gaan. Hy’s aktief in sy kinders se lewe betrokke. Ja, ek kyk met nuwe oë na die opofferings wat hy vir ons as sy vier kinders gemaak het. En ek is bevoorreg dat hy nog vir my en my seun gespaar is.”
Vir Price is dit belangrik dat sy kind weet hy word gekoester en dat hy geborge voel elke dag van sy lewe. En wanneer die kleinman jare van nou af die artikel lees, sal Price wil hê sy seun moet weet: “My seun, ek het jou meer lief as die lewe self. Ek weet nie wat ek sonder jou sou doen nie.
“Van die dag dat jy gebore is, het my lewe vir altyd verander. Ek het geweet –toe ek jou in die oë gekyk het, het my rede vir die lewe ten goede verander. Die dag het nie juis baie oomblikke wanneer jy nie in my gedagtes is nie.”
* Fatherhood has brought a new light to the life of award-winning journalist Ivor Price. In his successful career, he has taken on many roles, including radio announcer and television presenter, but nothing compares to his role as a dad.





