Die skoolhekke van Weltevrede Sekondêr sal gesluit bly, en leerders sal elke dag 10:00 verdaag totdat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gehoor gee aan dié skoolgemeenskap se bekommernisse.
Só sê Pieter Julies, die Wes-Kaapse verteenwoordiger van die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame (NASGB).
Ouers en leerders van die Wellingtonse skool is ongelukkig omdat hulle voel die WKOD ignoreer hul hulpkrete.
’n Groot skare het skoolverrigtinge Dinsdagoggend tydens ’n vreedsame optog tot stilstand gebring. Leerders het met plakkate rondgestaan, wat duidelik hul ongelukkigheid uitbeeld.
Op van die plakkate staan dat klasse oorvol is met tot 55 leerders en sommige wat nog in die gange moet sit tydens onderrig, omdat daar nie genoeg plek is vir al die leerders nie. Die kinders pleit vir gehalteonderrig en sê hulle is moeg vir leë beloftes. Die betogers voer aan dat die skool nie net ’n tekort aan lessenaars het nie, maar ook aan onderwysers.
Julies het bevestig dat klaskamers uit hul nate bars en dat onderwysers weens oorvol klasse onder druk is. Hy sê onderwysers is veronderstel om klas te gee vir 35 kinders, maar dat dit nie by dié skool die geval is nie.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, het by navraag gesê: “Die WKOD-distriksbeamptes het ’n vergadering met die skoolbeheerliggaam gereël om vas te stel wat hul bekommernisse is en waarom daar gerugte oor oorvol klasse is, terwyl ons data toon die skool het 44 klaskamers (wat die infrastruktuur betref) vir 25 geregistreerde klasse (aantal klasgroepe) en 35 opvoeders (insluitend die skoolhoof) in die bepalings van die diensstaat.
“Die leerder-tot-klaskamer-verhouding is 24:1. Ons moet dus vasstel wat die probleem is en of dit te doen het met die bestuur van die skoolrooster en die herrangskikking van die aanvulling van meubels. Alhoewel daar ’n toename in leerders vir graad agt was, dui die data wat ons op ons stelsel het op ’n ander scenario.”
Leerders wat nie skoolplasing kon kry nie, is na bewering aan die begin van die jaar aan die skool toevertrou, met die belofte dat nog meer onderwysers aangestel sal word.
Julies sê die skool kort minstens nog twee onderwysers.
Dit is nie die enigste probleme wat Weltevrede in die gesig staar nie.
Volgens Julies gaan die skool gebuk onder misdaad en word onderwysers deur bendes tydens skoolure geteiken omdat die skool nie behoorlik omhein is nie.
“ ’n Onderwyser wat aan die begin van die jaar by die skool aangestel is, het reeds bedank. Bendes het tot in die klaskamer gekom en haar skootrekenaar gesteel. Sy was so getraumatiseer dat sy net daar bedank het. Van die kinders moet buite die klas in die gange tydens lesse sit. Wat gebeur as bendes dan by die skool inkom?”
Hammond het laat weet dat die WKOD gister ’n vergadering met die skool geroep het om oor hul bekommernisse te gesels. “As sekuriteit ’n bekommernis is, sal ons dit ook met hulle bespreek. ’n Aangesig-tot-aangesig-vergadering word vereis. Dit kan nie deur die media opgelos word nie.”




