Dit kos ouers jaarliks ’n klein fortuin om hul kinders in die skool te hou. Buiten skryfbehoeftes, skoolklere en skoolfooie, moet ouers soms noodgedwonge ekstra geld op nasorg, vervoer en ander aktiwiteite, soos uitstappies, bestee.

’n Ma van twee skoolgaande kinders sê elke jaar koop sy dieselfde goed, maar hul skoolbenodigdhede kos net meer en meer.

“Elke keer koop ’n mens skoolklere en skoolskoene, en die goed raak opgedra. Boeke raak vol deur die loop van die jaar. Dis ’n aaneenlopende proses. Elke jaar koop jy dieselfde goed, en alles word net duurder.”

Skoolfooie verskil van skool tot skool, en dit is nie goedkoop nie.

Ouers betaal tussen minstens R800 en R28 000 per jaar om hul kinders ’n goeie geleentheid vir onderrig te bied.

Die ma, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê een van haar kinders se skoolfooi het verdubbel. “Verlede jaar was dit nog R400, maar dit het vanjaar tot R800 gestyg.”

Die koste van skoolklere en skryfbehoeftes is nog ’n pyn. Om dit te dek, moet ouers amper R2 400 vir elke kind opdis.

Die finansiële verantwoordelikheid word net groter vir ouers in die geval van dié wat ver van die skool af woon en niemand het om ná skool na die kinders om te sien nie. Dit beteken dié ouers moet elke maand ’n bykomende sowat R500 vir vervoer per kind uitgee, en sowat R1 036 vir nasorg.

Die kinders moet natuurlik eet en ’n peuselhappie hê om by die skool te geniet. Dit kos maklik nog ’n ekstra R800 per maand. “Daar was ’n tyd in my lewe dat my kinders sonder brood skool toe gegaan het, en dit was nie lekker nie. Jy het baie uitgawes – jy het jouself, jou huishouding, jou vervoer om by die werk en terug te kom, huurgeld wat betaal moet word en kos wat op die tafel gesit moet word. Niks hou vir altyd nie. Elke keer moet jy ’n aanvulling doen.”

Buiten die skoolbehoeftes is daar ook buitemuurse aktiwiteite, geldinsamelings en skoolsaamtrekke wat deur die jaar ondersteun moet word. Dit grawe nog ’n groter gat in die beursie.

“Die skooluitgawes is regtig baie, veral as jy twee of meer kinders het wat op skool is. Hoe maak jy, want die skole sê nie jy het twee kinders en jy hoef net vir een te betaal nie. Jy moet al twee se skoolfooie betaal en omsien na al twee se behoeftes.”

Die ma verduidelik sy en haar man gee nie om om die beste vir hul kinders te gee nie, maar voeg by dit is ’n groot uitgawe om kinders te hê wat nog op skool is. Volgens haar moet ’n mens die ekstra myl stap, en soms ekstra werk doen om by te hou met geld vir skoolbehoeftes.

“Ek en my man moet ekstra ure werk. ’n Mens wil werk en daai ekstra myl vir jou kinders stap, maar jou liggaam word ook moeg. ’n Mens sit baie ure in by die werk, en in die soort werk wat ek doen, moet ek 12 ure per dag werk. My man se werksure, aan die ander kant, is weer baie onvoorspelbaar. Soms slaap ons al dan weet ons nie eens hoe laat hy huis toe gekom het nie. Hy is skaars by die huis dan lui sy foon weer. Ouers moet baie insit vir hul kinders, regtigwaar.”

Ouers se ondersteuning vir hul kinders is baie belangrik. Met ’n meisie wat vanjaar in matriek is, is daar nog uitgawes vir die gesin. Handboeke moet gekoop word en dan is daar ook die matriekafskeid.

“Ek as ma voel baie trots op my kinders wat tot dusver elke jaar mooi geslaag het. ’n Mens wil vir hulle die beste vir hul matriekjaar gee en ná hul matriekjaar is daar weer uitgawes, want dan kom universiteit. Dis ook ’n groot uitgawe, en dan moet jy ook ondersteuning gee.”

Dié 44-jarige ma voel kinders moenie verby hul ouers se opofferings kyk nie. Kinders moet ook hul deel doen en die beste maak van hul skoolloopbaan vir ’n beter lewe vorentoe.

“Dis baie moeilik – veral vir enkelouers. Jy kan nie lewe van net een salaris en jou kinders se staatstoelae nie. Dit is hopeloos te min. Niks raak minder nie; alles raak duurder. Geld het nie meer waarde nie, want jy betaal iets en jy kom terug, en dan is jou geld op. Kinders wat skoolgaan is ’n groot uitgawe.”

* It costs parents a fortune every year to keep their children in school. In addition to stationery, school clothes and school fees, some parents are required to spend extra money on aftercare, transport and activities.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article