Tsakani Maluleke, Suid-Afrika se ouditeur-generaal en die eerste vrou in 109 jaar wat hierdie amp in die hoogste ouditinstelling beklee, is vanjaar die spreker by die jaarlikse Frederik van Zyl Slabbert-erelesing van die sentrum vir studenteleierskap, ervaringgerigte opvoeding en burgerskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Die geleentheid word Maandag 14 Augustus om 18:00 in lewende lywe en aanlyn in die Wallenberg-navorsingsentrum by die Stellenbosch-instituut vir gevorderde navorsing (STIAS), Maraisstraat 10, Stellenbosch, aangebied.
Die tema van Maluleke se aanbieding lui “Goeie regeringspraktyk, goeie burgerskap? Wat benodig Suid-Afrikaners vir betrokke burgerskap?” Hierdie jaarlikse erelesing, met die finansiële ondersteuning van die Konrad Adenauer-stigting, is daarop gemik om ’n platform te skep waar studenteleiers, akademici en die groter internasionale gemeenskap krities met aktuele politieke en regeringspraktykkwessies in Suid-Afrika kan omgaan.
Tsakani Maluleke is ’n genoot en moderator van die Afrika-leierskapsinisiatief en die Aspen- globale leierskapsnetwerk. Haar agtergrond as geoktrooieerde rekenmeester (GR) strek oor meer as 20 jaar, met ondervinding in die private en die openbare sektor en op diverse gebiede soos ouditering, konsultasie, korporatiewe advisering, ontwikkelingsfinansies, beleggingsbestuur en vaardigheidsontwikkeling. As lid van die presidensiële adviesraad oor swart ekonomiese bemagtiging was sy aan die hoof van ’n subkomitee wat suksesvolle aanbevelings vir breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BSEB) ontwikkel het. As voorsitter van die GR Handvesraad het sy die eerste sektorhandves vir SEB in die Staatskoerant laat plaas. Hierdie handves was gerig op belangrike transformasie-inisiatiewe wat toegang tot die beroep vir swart mense verbeter het.
As ’n nie-uitvoerende lid van die ombudskomitee vir finansiële advies- en tussengangerdienste (FAIS) het sy die FAIS-ombud van raad oor die opstel van die kantoor bedien.
Maluleke se loopbaan word aangedryf deur die begeerte om aktief tot die bevordering van swart mense in die rekenmeesterberoep by te dra. Sy het hierdie passie deur haar werk met verskillende organisasies uitgeleef, waaronder Business Unity South Africa (BUSA), African Women Chartered Accountants (AWCA) en die Association for the Advancement of Black Accountants of Southern Africa (ABASA), waarvan sy ’n voormalige president was.
Haar rol as die voormalige nie-uitvoerende voorsitter van die raad van SAICA (Suid-Afrikaanse instituut van geoktrooieerde rekenmeesters) was ’n voortsetting van hierdie werk. Haar toewyding aan diensuitnemendheid en etiese leierskap, en haar bydrae tot transformasie is reeds deur die presidente van ABASA, AWCA en die Swart Bestuursforum (BMF), onderskeidelik, erken en beloon.
. Skakel met dr. Heidi October, hoof: Frederik van Zyl Slabbert instituut vir studenteleierskapsontwikkeling, by 021 808 4253 of heidioctober@sun.ac.za vir meer inligting.





