Koos Prinsloo, gewese en geliefde hoof van die Laerskool Pierre Simond in Simondium (1975-1995) is in die ouderdom van 80 jaar oorlede.
Hy was ’n gebore onderwyser en sportafrigter wat sy leerders tot groot hoogtes aangemoedig het.
Hy is in Molteno gebore en het ná matriek by die Onderwyskollege Paarl gestudeer, waar hy hom as liggaamlike opvoeder bekwaam het. Sy eerste onderwysbetrekking was by die Hoërskool Noupoort, waar hy gou raakgesien is vir sy vernuftige spel as rugby-heelagter.
Hy is in verskeie plattelandse en provinsiale rugbyspanne ingesluit. Hy het later na die Paarl verhuis, waar hy baie wedstryde vir Paarl as heelagter gespeel het. Ná sy rugbyloopbaan het hy by die Paarl-tennisklub aangesluit, waar hy ook ’n groot bydrae gelewer het.
Prinsloo is in 1975, op die jeugdige ouderdom van 34, as hoof by die Laerskool Pierre Simond aangestel, waar hy sy stempel duidelik as klasonderwyser, skoolhoof en sportafrigter afgedruk het.
Hy het ook die gemeenskap gedien en was voorsitter van die Skoolhoofde-vereniging, sekretaris van Boland-laerskoletennis, 20 jaar voorsitter van die Buiteskoolse Atletiek-vereniging, waar hy elke jaar die atletiekbyeenkomste gereël het.
Prinsloo was ’n gesinsman en op sy gelukkigste voor ’n braaivleisvuurtjie.
Hy sal baie deur sy familie en almal wat hom geken het, gemis word.
Hy laat sy vrou, Eln, hul seun, Gerhard en gesin (Australië) en tweelingdogters Dedri en Lindie (wat die SA tennisspan 45+ vir die wêreldtoernooi in Portugal gehaal het) agter. Sy oudste dogter, Zania, is in 2008 in Koeweit, waar sy onderwys gegee het, oorlede.
’n Gedenkdiens word Donderdag 16 Junie om 10:30 in die Strooidakkerk Paarl gehou, met ’n regstreekse uitsending op YouTube, “Strooidak Live”.





