Een van die Paarl se goue seuns van rugby, Gurthrö Steenkamp, het nou as’t ware naam vir homself gemaak op die gebied van rugbyafrigting in Frankryk nadat die Franse klub La Rochelle onlangs die Heineken-kampioenbeker in die eindstryd teen die gedugte Ierse span Leinster verower het.

La Rochelle het sy wenreeks verlede Sondag voortgesit toe hy Lyon geklop het in ’n Top-14-stryd wat hom saam met Toulose tans algeheel vierde op die punteleer van Franse rugby plaas.

Steenkamp vertolk ’n sleutelrol by La Rochelle nadat hy die leisels as skrumafrigter geneem het.

Steenkamp is ’n trotse oud-Paarliet wat sy laerskooljare by Ebenezer Primêr geniet het voordat hy na die Hoër Jongenskool Paarl is, wat ’n belangrik invloed op sy toekomstige rugbyloopbaan gehad het.

As voorryspeler het Steenkamp ná skool vir die Cheetahs, Bulle en Leeus uitgedraf en in 2004 sy buiging vir die Springbokke teen Skotland gemaak.

Hy het die Springbok-rugbytrui in die 2007- en 2011-Wêreldbekertoernooie gedra en is in 2010 as Suid-Afrikaanse rugbyspeler van die jaar aangewys.

Steenkamp het hom ná die 2011-Wêreldbeker by die Franse klub Toulouse aangesluit, waar hy vir die Europese kampioene tot 2017 gespeel het.

Ná sy uittrede in 2017 het hy sy sakestudies aan die Toulouse-sakeskool en ook ’n afrigtingskursus voltooi.

Steenkamp het hierdie gebruik om onder meer afrigtingskonsultasiewerk in Frankryk, Duitsland en Holland te doen.

Maar met die aanbreek van die 2021-’22-rugbyseisoen in Europa het nog ’n nuwe hoofstuk in Steenkamp se lewe aangebreek toe hy as skrumafrigter vir La Rochelle in dié Middeleeuse hawestad aan die weskus van Frankryk aangestel is.

Intussen het Steenkamp, sy vrou, Jana, en hul kinders, Kaylee (18), Werner (15) en Giana-Mae (8) in die Franse leefstyl ingeburger geraak.

Hulle praat almal vlot Frans en die kinders gaan daar skool, met Kaylee wat vanjaar op pad na ’n Franse universiteit sal wees.

Steenkamp het vandeesweek in die mooiste Afrikaans uit La Rochelle vertel hoe die Franse en hul leefstyl die gesin omhels het.

“Dit was in die begin veral met die vreemde taal baie uitdagend, maar die Franse was deurgaans vriendelik, hulpvaardig en toeganklik,” het Steenkamp vertel.

Hy sê wel die afgelope twee jaar van die Covid-19-pandemie was ’n geweldige uitdaging – veral vir sportmense wat graag wil meeding, maar nie kon speel nie.

“Ek moes in hierdie tydperk meer as 600 rugbyspelers aanlyn met afrigting help. Ons as afrigters moes hulle ook deurgaans gemotiveerd hou in dié uitdagende tye. Maar die geleenthede wat ek tot dusver in Frankryk gebied is, is ongelooflik – vir my loopbaan sowel as vir my gesin.”

Steenkamp sê weens werksverpligtinge en die pandemie was hy vyf jaar laas in Suid-Afrika.

“Ja, ek mis ’n lekker gesellige braai saam met vriende en familie. Ek mis ook die warm hartklop en onder­steuning van die Paarl en sy mense.” Van terugkom na Suid-Afrikaanse bodem is daar nog geen sprake nie, maar “wie weet”, sê Steenkamp, “as die regte geleentheid aan die deur klop, kan dit wel gebeur”.. Well-known Paarl resident and former Springbok rugby player Gurthrö Steenkamp is making waves in French rugby as scrum coach.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article