Ek is oorspronklik van Pretoria en het in Julie 2022 weens werkdoeleindes na die Paarl verhuis.
Wat my baie van die Paarl beïndruk het, is die paaie en outydse geboue. In Pretoria is die dorp besaai met slaggate en dit word erger soos mens na die woonbuurte beweeg. Om te weet dat die Drakenstein-munisipaliteit regtig na die dorp omsien en weet wat dit beteken vir motoriste om hul voertuie te beskerm – dit is regtig iets wat die Tshwane-munisipaliteit moet opvolg.
Die ou Paarlse geboue wat nog bestaan, laat my dink aan destydse cowboy-flieks. Die manier hoe hierdie geboue onderhou word, het my oog gevang.
Wanneer ek en my gesin in die dorp stap, kan ’n mens enigeen vra waar ’n plek is, byvoorbeeld toe ek iemand vra waar die ABSA-gebou is, het die persoon nie net vir my verduidelik waar dit is nie, maar my sommer halfpad tot daar gevat.
Die paaie, die geboue, die mense, alles en almal in die dorp gee ek beslis ’n 10 uit 10.




