Mzwandile Tiyo, ’n voormalige Wes-Kaapse misdaadintelligen­siehoof, wat ook in ’n stadium die bevelvoerder van die Paarl-polisiekantoor was, is saam met ’n kollega gedagvaar om in Maart in die Wynberg-landdroshof in Kaapstad te verskyn.

Luidens verskeie mediaberigte sal Tiyo en sy kollega aangekla word van dwarsboming van die gereg, die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer asook van huisbraak met die oog op onwettige betreding.

Die aanklagte hou verband met ’n voorval by ’n taverne in Mbekweni aan die einde van 2023 toe Tiyo se dienspistool en skootrekenaar glo uit sy voertuig gesteel is.

Ingeligtes het beweer hy en twee ander polisiebeamptes het hul ampte en staatshulpbronne gebruik om die “verdagtes” op te spoor, te ontvoer, aan te rand en hulle daarvan te beskuldig dat hulle die vuurwapen en skootrekenaar uit Tiyo se voertuig gesteel het. Tiyo het blykbaar nooit die diefstal by die polisie aangemeld nie.

Paarl Post het vroeër berig ingeligte bronne het destyds gesê uiters gespesialiseerde toerusting, wat selfoonseine kan onderskep, is in die soektog gebruik.

Getuies beweer ook hy het polisiebeamptes opdrag gegee om ’n perseel in Bellville sonder ’n lasbrief te betree.

Hy is in Augustus verlede jaar afgedank nadat ’n raad van ondersoek belê is om sy bevoegdheid te midde van ’n vlaag bewerings oor wangedrag te ondersoek.

Hy het intussen ’n appèl teen sy afdanking gewen – ’n besluit wat glo deur die nasionale polisieleierskap geneem is.

Netwerk24 berig egter ’n dagvaarding vir hom om op 14 Maart in die hof te wees, is Vrydag (21 Februarie) op hom by sy huis in die Paarl beteken.

Intussen het Tiyo vir Ian Cameron, die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor polisiëring, daarvan beskuldig dat hy ’n sameswering dryf om van hom ontslae te raak.

Cameron het verlede jaar ’n reeks plasings oor die bewerings teen Tiyo op sosiale media gemaak.

Janyde Cupido, Tiyo se prokureur verbonde aan die regsfirma Ian Levitt, het verlede week volgens TimesLive ’n klagte by Thoko Didiza, voorsitter van die nasionale vergadering, aangemeld, waarin Cameron daarvan beskuldig word dat sy sosialemediaplasings die gedragskode oortree het.

In die klagte voer Cupido aan dat Cameron ’n “persoonlike vendetta” teen Tiyo gekoester het.

“Cameron het sy posisie sowel as sy invloed as ’n openbare verteenwoordiger gebruik om my doelbewus te viktimiseer en te belaster. Die feite is opsetlik verdraai en onherstelbare skade is aan my beeld berokken,” het Tiyo in ’n beëdigde verklaring aan die speaker gesê.

In ’n beëdigde verklaring wat Cameron vandeesweek met Paarl Post gedeel het, verwerp hy Tiyo se bewerings dat die plasings op sosiale media persoonlik van aard was en voer verder aan dat hy geen gedragskode oortree het nie.

“Die klaer (Tiyo) het nie enige geloofwaardige bewyse gelewer wat daarop dui dat ek my parlementêre posisie gebruik het om ’n persoonlike of finansiële voordeel te verkry nie.

“Hy kon ook nie bewys dat ek, soos hy beweer, in konflik met my verpligtinge as ’n parlementslid opgetree het nie.

“Inteendeel, die toesig wat ek oor die sake van ’n voormalige hoëvlak-amptenaar uitgeoefen het, val volkome binne my bevoegdheid as voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, wat vereis dat ek polisieleierskap fyn dophou – veral waar bewerings van wangedrag of onbehoorlike gedrag ontstaan,” lui Cameron se beëdigde verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article