Lede van Wellington-bejaardesorg word weekliks op Donderdae aktief gehou deur ’n program wat aktiwiteite behels om hulle aan die gang te hou.

Credit: SYSTEM

Die oorgang na bejaarde en die finale seisoen van ’n mens se lewe in aftrede kan ’n hewige antiklimaks op so ’n geliefde se gemoed hê.

Eensaamheid, verveeldheid en ’n gevoel van geen waarde vir die samelewing is net ’n paar van die ervarings wat bejaardes in dié seisoen kan beleef.

Gelukkig bestaan talle plaaslike klubs en programme wat mik om sulke ervarings te verlig en te vergemaklik, nes die Wellington-bejaardesorg.

Wellington-bejaardesorg bestaan tans uit 45 lede, van wie die meeste vroue is, en hul manlike geselskap dié van 10 lede behels.

Die ouderdomsgroep van lewenslustige lede is tussen 61 en 95 jaar oud. “Ons jongste lid is Pedro Satira (61) en die oudste wat ’n skatryke 95 jaar jonk is,” vertel Fulenda Paulse.

Die klompie vergesel mekaar weekliks op Donderdae waar verskeie aktiwiteite hul lewe lekker wakker woeker.

“Ons beplan ons Donderdae so dat ons lede fisiek aktief bly om aan oefeninge deel te neem, maar ook geestelike projekte uit te werk wat hul hande kan besig hou. Die belangrikste bly natuurlik sodat hulle elkeen lekker kan saamkuier en gesels.”

’n Donderdag-klubsamekoms begin om 09:30, waarvan die program die volgende behels: Oefeninge, projekte, gassprekers, speletjies en gesellige samesyn. Die program sluit om 12:00 af, waarna die lede terug huis toe geneem word.

“Die bestuur neem die lede eenmaal per kwartaal uit vir ’n lekker bederf wanneer al die lede saam na ’n bestemming kan gaan om die dag in die buitelug saam met mekaar te geniet.”

Wellington-bejaardesorg se komitee bestaan uit die volgende lede wat die weeklikse Donderdag-programme as volg bestuur: Jean Bantjes fasiliteer die godsdiens, media en foto’s; Connie Abrahams en Peter Hartogh reël die kuns en handwerk; Jerome Julies is verantwoordelik vir fiksheid en Fulenda behartig die kantoor se bestuur.

“Ons is tans hard aan die oefen vir die jaarlikse Golden Games-sportdag wat op 12 Mei by die Dal Josafat-stadion sal plaasvind. Hierdie dag werk soos die Olimpiese Spele vir die ouer geslag waar hulle aan boeresport sal deelneem, maar ook teen ander klubs sal meeding.”

Die Covid-19-pandemie het die klub se tydverdrywe uiteraard omvergewerp. “Ongelukkig het covid ons gedwing om tydelik ons deure te sluit, en het ons toe elke week vir ons lede kos aangery na hul huise om seker te maak hulle voel nie alleen nie.

“Gedurende dit als kon ons lede nie kerk toe gaan nie, en ons het toegesien dat hulle steeds die Woord van God kon hoor. So het Jean vir ons Godsdiens-video’s een maal per week opgeneem en dit aan die lede versprei sodat hul steeds die liefde van God kon hoor en beleef.”

Jean-Claude le Cordier het aan Paarl Post vertel van die oorsprong van die klub, en sê die naam Lena Kroneburg is sinoniem met dienslewering aan die bejaardes van Wellington.

“Sy sien die nood van ouerwordende mense in ons gemeenskap en het ’n passie ontwikkel vir die omsien na die bejaardes. Sy was die groot dryfkrag agter die inisiatief en het in ’n japtrap ’n klub vir bejaardes, bekend as Gemoedsrus, gestig.”

Hy verduidelik dat ’n behoefte later geïdentifiseer is vir ’n eie byeenkoms waar programme aangebied en saamtrekke gehou kon word waardeur bejaardes versorging kon kry, soos haarversorging, en ook ’n lekker ete op klubdae kon geniet, wat toe tot Wellington-bejaardesorg gelei het.

“Ons grootste uitdagings behels die vervoer van lede. Lede word weekliks by hul huise opgelaai en weer afgelaai, maar as gevolg van die koste verkies ons dat nuwe lede wat wil aansluit vir eers hul eie vervoer moet reël. Dit behels ook instandhouding van geboue, voorsiening van maaltye en geld om ’n senior-volwassene-program van hoë gehalte aan te bied.”

Le Cordier sê deur middel van ’n krimpende subsidie van die departement van welsynontwikkeling, word jaarlikse finansiële bydraes van skenkings uit Wyk 18, kwartaallikse saamtrekke en ander bydraes van vriende van die bejaardes gepoog om alles te dek sonder om te veel van die betrokke bejaardes te vra.

“Ons is tans besig met ’n veldtog om 200 mense ‘vas te maak’ om kwartaalliks R50 te gee om ons beplande daguitstappies te dek. Ons bejaardes is baie jonk van gees en geniet die daguitstappies verskriklik.”

Hy sê die betrokkenheid van oud en jonk by hul vereniging is van groot waarde. “In dié verband speel ’n paar skole soos St. Albans Primêr en ons nuutste inskakeling, Wellington Vaardigheidskool, ’n beduidende rol.”

Nuwe lede word hartlik verwelkom om by Wellington-bejaardesorg aan te sluit.

Belangstellendes kan Fulenda by 067 145 8394 bel.

Maak gerus kontak om meer inligting rakende die klub se 2022-kalender uit te vind, en hoe om hulle finansieel of as vrywilliger te ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article