Janco Leonard (24 Credit: SYSTEM

Janco Leonard (24) het al van die intrapslag geweet hy wil eendag ’n vlieënier word toe hy as leerder aan die Laerskool Langebaanweg in die Weskus gereeld die lugmag se vliegtuie dopgehou het.

Vandag, nadat hy in 2017 aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer het, is hy die jongste assistentvlieënier by die Airlink-lugdiens nadat hy in Julie vanjaar by die maatskappy aangesluit het.

“Toe ek op hoërskool was, het ek eintlik nie meer geweet wat ek [ná skool] wil doen nie, maar het toe op ’n vlug saam met my familie net weer eens besef dít [vlieg] is wat ek wil doen,” het Leonard gesê.

Hy het verduidelik hy het beplan om argitektuur te studeer, maar het ná daardie familie-vlug ’n ommekeer gemaak en besef sy kinderdroom om ’n vlieënier te wees laat sy hart vinniger klop.

Leonard het toe laggend verduidelik sy pa het in reaksie op dié nuus gesê “jong, ons sal maar moet kyk wat ons gaan doen” en was eers glád nie in sy noppies met die nuus dat sy seun se studies ’n plaas se geld gaan kos nie.

Nietemin, vyf jaar later is Leonard ’n suksesvolle lugdiensvlieënier – en een van die jongstes daarby.

Dit was harde klippe kou om tot hierdie punt te kom, het hy verduidelik, en bygevoeg hy moes lang ure voor die boeke sit en sy vliegure opbou om sodoende sy graaddrie- instrukteurslisensie te verwerf.

Nadat Leonard in 2019 by 43 Air School in Port Alfred gegradueer en al 11 eksamens met ’n A-gemiddelde geslaag het, het hy verder gestudeer om sy graad- twee-instrukteurslisensie op te gradeer na ’n graadtwee-instrukteurslisensie, wat hom in staat gestel het om vir Airlink te kan werk.

Ná sy studentejare het hy by 43 Air School as instrukteur aangesluit en ná om en by drie jaar verskeie CV’s na lugdienste uitgestuur, waarna hy uiteindelik by Airlink aangesluit het.

“Ek is nog nat agter die ore en is steeds besig met opleiding,” het Leonard telefonies uit Johannesburg gesê, waar hy tans woon. Weens dié rede kan hy slegs binnelandse vlugte behartig, maar hy is vinnig op pad om vir internasionale vlugte te kwalifiseer.

“My mees rewarding vlug sover was na Gqeberha omdat ek in die Oos-Kaap gestudeer het.

“Ander ‘knyp-my-oomblikke’ was om die eerste keer agter die kontroles van ’n vliegtuig op te styg en die krag daarvan te voel.

“As iemand na my sou kyk, sou hulle net ’n massiewe smile op my gesig sien.

“Ek is oneindig dankbaar vir my familie,” het ’n emosionele Leonard met die trane wat vlak lê, gesê en verduidelik hy sien daarna uit om eendag saam met hulle in die lug te kan rondsweef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article