Die eens mooi en baie gewilde Orleanspark in Paarl-Oos is nou in ’n plakkerskamp omgeskep en erg verwaarloos.


Dinge lyk steeds baie benard by die eens gewilde Orleanspark in Paarl-Oos, wat nou in ’n plakkerskamp ontaard het.

Hierdie destydse trotse uitspan- en braaiplek vir inwoners het die afgelope jare behoorlik in ’n krotgebied ontaard omdat die munisipaliteit mense hier huisves wat van ander grond afgesit is.

Behalwe gereelde klagtes van omliggende inwoners hieroor, het ’n Paarl Post-leser, wat nou in Gauteng woon, onlangs gekla hoe geskok hy was toe hy in Desember verlede jaar besoek in die vallei afgelê en met groot hartseer gesien het hoe geheel en al vervalle die park is, waar hy, sy familie en vriende destyds gereeld heerlik uitgespan het.

Volgens inwoners van New Orleans het die Drakenstein-munisipaliteit byna vier jaar gelede ’n baie kortsigtige besluit geneem om die Blouhuis-plakkers “tydelike” huisvesting in die park te bied.

Die munisipaliteit het destyds beloof dat die tydelike huisvesting slegs vir ’n paar maande sou duur en dat die inwoners dan na ’n nuwe tuiste verskuif sal word.

En nou, vier jaar later, is die Blouhuis-tentbewoners steeds in haglike omstandighede in die park, maar hulle weier om na hul nuwe tuiste te trek.

Die hekke hier is twee jaar gelede oopgegooi vir mense wat in Windmeul van grond afgesit is.

En met Paarl Post se besoek hierdie week aan die terrein lyk dit asof mense ook in die park se chalets gehuisves word.

Hiermee saam het die park geheel en al in duie gestort en vandalisering van alles hier vind byna daagliks plaas – soveel so dat die munisipaliteit ten duurste ’n heining om die waterpark gespan het, maar steeds word die geriewe gevandaliseer.

Die braaiplekke en ablusieblokke is erg afgeskeep en beskadig en die gras en onkruid groei kniehoogte.

Die munisipaliteit het vandeesweek erken dat vandalisme hier ’n probleem is wat hulle daagliks die hoof moet bied.

Hulle sê ook die munisipaliteit sal eers nadat die tentekamp-bewoners die perseel verlaat het, met ’n massiewe instandhoudinsprojek in die park begin omdat onherstelbare skade oor die jare aangerig is.

Die waterpark is steeds funksioneel ondanks inbrake wat groot skade aan die waterpark aangerig het, en besoekers kan steeds die waterpark gebruik. Die park se ultraviolet-pompe word tans herstel.

Die vraag bly egter staan – wanneer gaan die tentbewoners die gebied verlaat?

Jacqui Samson, direkteur van beplanning, ontwikkeling en menslike nedersetting by die munisipaliteit, het gesê alternatiewe verblyf is by die Schoongezicht-noodbehuisingsterrein aan dié bewoners gebied.

“Slegs 11 gesinne het tot dusver ingestem en uit Orleanspark na dié terrein geskuif. Ná verskeie vergaderings weier die oorblywende 45 gesinne wat nog in Orleanspark is om na Schoongezicht te skuif.

“Die munisipaliteit oorweeg nou sy opsies en regstappe word nie uitgesluit nie. Dus is daar geen uitsig dat die park binnekort geskik vir besoekers sal wees nie aangesien hofgedinge oor uitsettings etlike jare kan duur.”

* The once popular leisure park Orleans Park in Paarl-East is becoming a squatter camp and a haven for vandals.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article