Terwyl drie Paarl-seuns Saterdag uitgeblink het in die Springbokspan in hul wedstryd teen Australië, en verskeie jonger seuns van Paarlse skole in die Suid-Afrikaanse skolespanne ingesluit is, word die plaaslike rugbyklubs en toeskouers lelik deur Drakenstein-munisipaliteit (DM) afgeskeep wat geriewe betref.
Twee velde op Dal Josafat is nie speelbaar nie weens swaar voertuie en trekkers wat DM op velde toegelaat het en wedstryde moes noodgedwonge skuif na velde waar daar geen omheining is nie en nie voldoen aan die minimum Boksmart vereistes nie. Gevolglik is die beheer van skare onmoontlik, daarbenewens word velde of die toegang tot die velde ook nie afgemerk om te vermy dat motors op die velde ry nie.
Hierdie verantwoordelikheid word op rugbyadministrateurs afgesmeer terwyl DM-amptenare net hul skouers optrek en gou is om daaroor te rapporteer. DM verwag dat toeskouers in die reën moet staan omdat geen rugbyveld in die Paarl oor enige beskutting of selfs sitplekke beskik nie, anders as in ander dorpe binne die DM gebied.
DM-amptenare se houding is dat toeskouers hul eie stoele en sambrele moet saambring of dan by die huis moet bly; dit terwyl betaal moet word vir die gebruik van die fasiliteite. DM gaan rugbyklubs seker nou weer dreig dat alle motors buite stadions moet parkeer en dat toeskouers aan hul eie genade oorgelaat moet word, of soos DM dikwels dreig, dat fasiliteite gesluit gaan word.
Die rugbykode wil graag ’n beroep op raadslede doen wat wedstryde bywoon en nog omgee vir die ontwikkeling van sport en die gemeenskap. Laat hoor jul stemme teen die onmenslike behandeling wat rugbytoeskouers, kinders en bejaardes ingesluit, moet deurgaan. Sommige DM-amptenare is van mening dat die fasiliteite hul eiendom is en is meer gemik daarop om fasiliteite van sport te weerhou as om aandag aan die gebreke of aan klagte van die rugbyklubs te gee.
Die rugbykode probeer al van Februarie ’n vergadering met Gerald Esau aanvra sodat probleme bespreek kan word. Nou wend ons ons tot die munisipale bestuurder as ’n desperate poging om oor fasiliteite te gesels en hoop daar word ten minste hieraan gehoor gegee.
- Die rugbykode beoog om ’n optog teen die swak fasiliteite na die munisipale kantore op 5 Augustus te hou sodat DM aandag kan gee aan swak geriewe.


