’n Dringende ondersoek word op aangedring vanuit verskeie oorde ná bewerings van korrupsie teen die uitvoerende burgemeester van Drakenstein en lede van sy burgemeesterskomitee.
Dit het aan die lig gekom dat Conrad Poole ’n interne DA-ondersoek in die gesig staar.
Bronne het onthul dat Poole en diegene na aan hom by die Drakenstein-munisipaliteit ’n betaal-vir-werk-skema voer. Lede van sy uitvoerende gesag betaal na bewering ’n maandelikse terugbetaling aan die burgemeester self.
Een van die burgemeesterskomitee lede word ook daarvan beskuldig dat hy duisende rande bestee het om ’n private troue vir Poole se familie te finansier.
Die GOOD-party en ANC het vandag skerp uitgevaar teenoor hierdie bewerings.
“GOOD was geskok om te hoor dat burgemeester Conrad Poole ’n interne DA-ondersoek in die gesig staar,” het Keagen Gertse, GOOD Drakenstein-raadslid gesê.
“Die Demokratiese Alliansie gee dikwels voor om as die morele kompas van die samelewing op te tree en nou is hul stilswye oor hierdie saak oorverdowend.
“Die DA het versuim om deursigtig te wees oor die proses en die inwoners van Drakenstein in sy vertroue te neem.
“Poole en sy uitvoerende bestuur oorsien ’n begroting van R3,4 miljard, en dit is noodsaaklik dat ons bevestiging kry dat hulle hande skoon is.”
Gertse het gesê dat hulle reeds ’n versoek aan die speaker van die raad geskryf het om ’n dringende ondersoek aan te vra.Die ANC Drakenstein eis ook Poole se kop weens hierdie beweringe.
ANC-raadslid Moutie Richards het gesê dat die ANC Drakenstein geskok is “maar nie heeltemal verbaas is” om te hoor van die ernstige aantygings van korrupsie waarby Poole en van sy burgemeesterskomiteelede betrokke is nie.
“Ons is ook geskok om uit te vind dat die burgemeester en daardie burgemeesterskomiteelede, reeds deur die DA Federale komitee ondersoek is.
“Die DA in Drakenstein het dit al die tyd stil gehou en hulle moet skoon kom en die inwoners van Drakenstein inlig hoekom hulle nou korrupsie bystaan en ondersteun terwyl dit hul eie lede is wat na bewering by sulke skandalige dade betrokke is.
“Ons eis dat die Speaker die Burgemeester en alle betrokke Burgemeesterskomiteelede met onmiddellike effek skors.”
Beide die ANC en GOOD het die Speaker van die Raad versoek om ’n spesiale raadsvergadering te belê om hierdie aangeleentheid te bespreek waarby die uitvoerende burgemeester en lede van sy uitvoerende gesag betrokke is.
Die Speaker van die Raad, Koos le Roux, het gesê dat die Drakenstein munisipale raad volg ’n zero-toleransie benadering tot korrupsie en sal enige gegronde bewerings teen enige van hul raadslede ondersoek.
Ook Wes-Kaapse minister van infrastruktuur Tertius Simmers, het gesê dat die DA neem kennis van GOOD-party se beweringe en het interne prosesse in plek wat sulke aantygings ondersoek teen die spesifieke lid, ongeag wat hul posisie in die party is.
Hy wou nie verder uitbrei oor die ondersoek nie.
• Poole se termyn (hy is nou in sy sewende jaar as burgemeester van Drakenstein) was tot dusver nie sonder kontroversie nie.
Hy is vroeër by nepotisme geïmpliseer nadat dit aan die lig gekom het dat verskeie van sy familielede poste by die Drakenstein-munisipaliteit gekry het.
’n Onafhanklike forensiese ondersoek het wel vir Poole kwytgeskel van alle aanklagtes.




