Ondersteuners van die opposisiepartye Vrydag (25 Augustus) buite die Drakenstein-munisipaliteit se burgersentrum.Foto: Chantélle Hartebeest


Ondersteuners van die opposisiepartye het Vrydag (25 Augustus) tydens ’n vreedsame betoging buite die Drakenstein-munisipaliteit se burgersentrum met hul plakkate gestaan en antwoorde geëis oor die ondersoek wat aanhangig gemaak is teen die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Conrad Poole.

Daar word beweer dat Poole en lede van sy burgemeesterskomitee by korrupsie betrokke is. Die ondersoek word deur die DA gedoen nadat verskeie versoeke vir ’n ondersoek teen Poole en die betrokke lede aangevra is.

Volgens betroubare bronne word beweer Poole en diegene wat na aan hom is, ’n betaal-vir-werk-skema by die munisipaliteit bedryf.

Terwyl plakkate buite die munisipale gebou rondgeswaai is, het die krae binne die raadsaal vuurwarm geword tydens die maandelikse raadsvergadering. Die vergadering het op ’n moeilike noot begin toe verskeie raadslede vrae gehad het oor die interne korrupsie-ondersoek teen Poole.

Meer as die helfte van dié vergadering het oor die korrupsie-beweringe teen Poole gehandel, wat volgens die speaker, Alderman Koos le Roux, nie bespreek kon word nie weens die ondersoek wat aan die gang is – beide deur die DA en die speaker self.

Deur die loop van die raadsvergadering het Le Roux twee raadslede – Basil Jacobs van die politieke party Concerned Drakenstein Residents (CDR) en Keagen Gertze van die GOOD-party – laat verwyder omdat hulle die sitting met hul vrae ontwrig het en nie op sy waarskuwings ag geslaan het nie. Ander raadslede van die twee betrokke partye het uit steun vir hul kollegas ook hul goed opgepak en die raadsaal verlaat.

Jacobs het reguit gesê hy is nie bang vir die speaker se waarskuwings nie.

“Die etiek van die speaker is vooroordeel,” het Gertze later, voordat hy uitgestap het, bygevoeg.

Volgens Le Roux het die beweringe en interne ondersoek teen Poole op 16 Augustus aan die lig gekom, terwyl hy ook op dieselfde dag daarvan uitgevind en die DA daaroor genader het. Teen 18 Augustus het hy bevestiging ontvang dat ’n ondersoek wel teen die burgemeester geopen is.

Die speaker is onder druk geplaas deur raadslede om ’n datum te gee vir die uitreiking van sy ondersoek teen Poole, waarop hy gesê het hy kan nie ’n spesifieke datum gee nie, maar sal sy ondersoek wel binne die volgende twee weke afhandel.

Een raadslid het gevra of die span wat die bewerings teen Poole en die ander beskuldigdes gaan ondersoek, onafhanklik sal wees. Die antwoord was dat nie-burgemeesterslede deel van die ondersoekende paneel sal vorm.

Op die vraag of iemand, soos die burgemeester, wat ondersoek word, sy of haar kantoor moet verlaat om te verseker dat geen ingemenging met die proses sal volg nie, het Le Roux geantwoord hy as die speaker het nie die mandaat om iemand wat van wangedrag verdink word, uit die kantoor te verwyder nie.

Le Roux het bygevoeg dat hy voor die raadsvergadering reeds met 13 raadslede gesels het en dat hy nog met die verdere 52 raadslede individueel moet konsulteer.

Poole is ’n kans gegun om enige noemenswaardige aankondigings te maak, soos wat hy in elke raadsvergadering doen, maar hy het eers teenkanting ontvang van die opposisiepartye wat gevoel het hy moet nie ’n spreekbeurt kry tensy hy die aantygings teen hom gaan aanspreek nie.

Voordat die CDR die raadsaal verlaat het, het dié party gevra dat Poole nie moet praat nie, want “daar hang ’n donker wolk oor Drakenstein”.

Toe Poole begin praat en aanmerkings maak soos “ek kom nie met die lag nie” en “kom pad toe”, was die opposisiepartye in rep en roer en het dit as ’n dreigement geïnterpreteer.

Oor CDR se donker-wolk-stelling het Poole gesê daar is ’n silwer randjie om elke donker wolk. In leketerme is “ek kom nie met die lag nie” gewoonlik wat iemand sou sê wanneer hulle gekomplimenteer word op iets, of dit kan ook wees wat iemand sou sê wanneer hulle die indruk wil skep oor dit waartoe hulle in staat is.

Kom pad toe” aan die anderkant is bekend as ’n direkte uitdaging vir ’n bakleiery. Poole het egter ontken dat dit enigsins ’n dreigement was en net gesê dit is alledaagse spreekwoorde wat op een van die raadslede se motors geplak is.

Daar was wel ’n hoogtepunt tydens die vergadering toe die raadslid Christephine Kearns van haar raadsdame-balkie (alderlady) toegeken is. Dit was ’n groot oomblik vir haar waarop sy nie haar trots en dankbaarheid kon terughou nie.

Maar wat die res van die opposisiepartye se raadslede betref, wou hulle niks hoor nie, behalwe antwoorde van Poole.

. Supporters of the opposition parties held a peaceful protest outside the Drakenstein municipality’s civic centre on Friday (25 August) and demanded answers regarding the investigation against the municipality’s executive mayor, Conrad Poole. At the same time a heated council meeting with all political parties took place in the civic centre.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article